Luister nou

Trump is reg oor Europa

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

“Trump haat Europa!”, “Die Trump-administrasie draai sy rug op Europese bondgenote!”, “Trump beledig Europese Unie!” Dit is van die slagspreuke wat kommentators, akademici, joernaliste en politici voorstaan – veral in Europa – wat ten gunste is van nog meer “Europese integrasie” (lees: meer magte aan die Europese Unie), meer immigrasie na Europa, en uitgebreide magte en groter befondsing vir supranasionale maatskappye, nie net die EU nie, maar ook die Verenigde Nasies (VN) en sy talle filiale.

Die waarheid oor die Trump-administrasie se nuwe Nasionale Veiligheidstrategie is dat dit die Verenigde State se verbintenis tot Europa bevestig. Groot dele van die dokument, waarin kwessies in Europa bespreek word, herinner wel aan ʼn man wat sy broer waarsku teen die langtermyngevolge van sy slegte gewoontes. Een persoon kan dit tereg vir broederliefde aansien, terwyl ʼn ander dit kan beskou as beterweterigheid, arrogansie of selfs die eerste stap in die rigting van die beëindiging van ʼn spesiale verhouding.

Net soos broers mekaar tereg moet wys, maak dit sin dat broedervolke binne ʼn bepaalde beskawing dieselfde moet doen. Dit is presies wat die Trump-administrasie se dokument wat verlede week uitgereik is, doen. ʼn Bekende konserwatiewe Amerikaanse skrywer wat die afgelope paar jaar in Europa woon, het vroeër vandeesweek verwys na ʼn vraag wat hy gereeld in Europa kry: Haat Trump Europa? Hierdie vraag spruit natuurlik uit ʼn narratief wat deur die hoofstroommedia, akademici en sommige politici geskep is, wat daarop dui dat Trump eintlik in die sakkie van Wladimir Poetin is, dat hy ʼn afkeur in Europa het en nie sal omgee as Europa vergaan nie.

Elke woord van Trump se veiligheidstrategie sowel as sy geopolitieke skuiwe die afgelope jaar, druis in teen die globalistiese rolspelers wat ten gunste is van swakker nasionale state, minder klem op nasionale en volksidentiteite en groter globale integrasie in instellings soos die EU, Navo en die VN.

Die Nasionale Veiligheidstrategie se kritiek op gebeure in Europa is redelik breed. Dit spreek oorregulering in Europa aan, wat deur feitlik elke klein- en mediumgrootte sake-eienaar in EU-lidlande bevestig kan word, maar natuurlik ook Amerikaanse ondernemings wat in Europa sake doen – of wil sake doen. Daar is goeie rede waarom Europese ekonomieë bitter min, indien enige, ekonomiese groei toon en die afgelope tyd al hoe verder agter raak vergeleke met die VSA in terme van welvaartskepping.

Die kritiek strek egter ook wyer en verteenwoordig ʼn algehele breuk van die afgelope paar dekades se globalistiese neo-liberale Amerikaanse buitelandse beleid met sy klem op vryhandel ten koste van Amerikaanse vervaardiging, die versterking van transnasionale en supranasionale instellings teen ʼn reuse- finansiële las vir lidlande en ten koste van nasionale soewereiniteit en burgerlike inspraak, en die afgelope paar jaar se toenemende anti-Amerikanisme vanuit instellings soos die VN en hul filiale – alles met komplimente van die Amerikaanse belastingbetaler.

Die nuwe veiligheidstrategie is dus ʼn beduidende beleidsverskuiwing deur die VSA en daaroor is die meeste ontleders korrek. Wat dit nie is nie, is Trump en die VSA wat hul rug op Europa keer. Die kritiek oor massa-immigrasie, die Islamisering van talle Europese lande, sensuur wat lei tot die inhegtenisneming van mense bloot oor sosialemedia-inskrywings en die algemene oorregulering deur instellings soos die EU, word gedoen uit broederliefde aangesien die VSA tereg bekommerd is oor die toekoms van Europa. Die dokument gebruik spesifiek die woord “bondgenote” wanneer daar na Europese lande verwys word. Hoe kan dit dan gesien word as ʼn wegwysing of afjak van Europa?

Die grootskaalse vrywillige ontwapening van Europese lande ná die Koue Oorlog was ʼn groot fout en Trump het dit tereg al in 2017 uitgewys. Sedertdien vind ʼn wesenlike regstelling plaas wat in belang van die hele Europa sowel as die VSA en Navo is.

Netso moet die magte van die EU ingeperk word en die nasionale soewereiniteit van Europese lande herstel word. Europese volkere moet hul identiteite en kulture beskerm, massa-immigrasie beëindig, hul bevolkingsaanwas verhoog en vryheid van spraak en godsdiensvryheid koester. Dit is vandag gevaarliker om ʼn Jood in Nederland (waar daar skaars nog 40 000 Jode oor is) te wees as enige ander tyd die afgelope 80 jaar! Dit is ʼn skande.

Linkses, liberales en globaliste het woedend op die dokument reageer. Frankryk se voormalige ambassadeur in die VSA, Gérard Araud, het geskryf: “Die verstommende afdeling gewy aan Europa lees soos ʼn verregse pamflet.” Die voormalige Sweedse eerste minister Carl Bildt se reaksie was: “Deur te sê dat Europa ‘beskawingsuitwissing’ in die gesig staar, plaas Trump se nuwe veiligheidstrategie homself regs van die uiterste regs in Europa.”

Waarom is dit verregs indien jy die Westerse beskawing wil beskerm? Indien jy die behoud van eeueoue Europese kulture wil verseker? Indien jy Europa aanmoedig om weer beheer van sy eie veiligheid te neem? Indien jy teen sensuur en die onderdrukking van Jode en Christene gekant is? Nee wat, Trump se dokument slaan die spyker op sy kop en behoort ʼn liefdevolle vermaning aan ʼn mankolieke Europa te wees.

Gewilde Nuus

Mbalula warns those assaulting on-duty police officers

Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Orania

Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Ernst Roets

Wit kruise nou na Uniegebou

Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann

VSA-debat jaag temperature op

Willie Spies

VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit
V (1)
Eerste skenkerleweroorplantings by Raslouw Private Hospital
V
Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie
Mbalula warns those assaulting on-duty police officers
Massaskietvoorvalle eis reeds 100de
Orania
Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Luister nou