Luister nou

Suid-Afrika kan dalk by Colombia kers opsteek om kiesers by die stembus te kry

Deur Redaksie

Jaco Versfeld

Byna weggesteek op die internasionale verhoog – wat die afgelope twee weke oorheers word deur vredesamesprekings tussen die VSA en Iran, Washington en sy ongelukkigheid met Israel (of is dit andersom?), en die soveelste Britse eerste minister wat bedank – het kiesers in Colombia op Sondag 21 Junie 2026 hul kruisies in die tweede rondte van die presidentsverkiesing getrek. Al het die meeste Suid-Afrikaners vir die eerste keer van stede soos Bogotá en Medellín gehoor in Netflix se reeks, Narcos, sal gebore Colombiane vinnig vir jou vertel dat dié land uit meer as net die geskiedenis van Pablo Escobar en kokaïenhandel bestaan.

Suid-Afrika het op die oog af min gemeen met dié Suid-Amerikaanse land. Daar heers enorme verskille op talle terreine soos kultuurgebied, ekonomiese beleid, klimaat, landbou en geskiedenis – om maar net ’n paar te noem. Daar kan egter enkele raakpunte uitgewys word, soos ’n kolonialistiese ontstaan wat grootliks die grondslag gelê het vir die ontwikkeling van die staat, ’n politieke beleid wat in die meer onlangse geskiedenis tot binnelandse militêre konflik gelei het en meer eietydse kwessies soos ’n toename in die invloei van onwettige immigrante uit veral buurlande. Voeg hierby albei lande se twyfelagtige verhouding met die VSA, wat nie ewe belangrik geag word deur alle inwoners nie, en die toneel is geskep vir ’n hewige stryd tussen die twee presidentskandidate.

Waar kiesers in Colombia aan die een kant daagliks gekonfronteer word met misdaad, swak dienslewering asook swaar gewapende dwelmkartelle en guerrillagroepe, is daar aan die ander kant die bedreiging van die terugval na ’n volskaalse burgeroorlog of om soos hul buurland Venezuela vroeër vanjaar, aan ’n gedwonge regeringsverandering onderwerp te word.

Die nuut verkose president, die regse Abelardo de la Espriella, het sy verkiesingsveldtog geskoei op beloftes van onder meer ’n genadelose veldtog teen gewapende groepe van watter aard ook al, ’n verkleining van die staatsdiens, ’n gunstiger sakeomgewing, behoudende maatskaplike waardes en minder afhanklikheid van internasionale regsprekende instellings soos die Inter-Amerikaanse Hof vir Menseregte.

Aan die ander kant het die kandidaat wat die knie moes buig, Iván Cepeda, kiesers belowe dat daar eerder met gewapende groepe onderhandel moet word vir ’n totale vredesoplossing, dat bestaande regte van werknemers en maatskaplike programme uitgebrei moet word, die VSA nie toegelaat moet word om in Latyns-Amerika in te meng nie en dat ’n verandering aan die grondwet aangebring moet word om die wetgewende proses te versnel.

De la Espriella, wat openlik deur die Amerikaanse president, Donald Trump, ondersteun is,  was net ’n kortkop voor en kon 49,66% van die stemme op hom verenig teenoor Cepeda, wat deur Colombia se uittredende president, Gustavo Petro ondersteun is, se 48,70%. Terwyl net die geskiedenis sal aandui of inwoners reg gekies het, wys die minimale verskil in steun vir die kandidate hoe sterk kiesers oor die omstrede kwessies voel.

Wat het dit met Suid-Afrika te doen?

Anders as in Suid-Afrika stem Colombiane direk vir ’n president en adjunkpresident in ’n verkiesing wat uit twee rondtes bestaan indien geen kandidaat in die eerste ronde meer as 50% van die steun kan kry nie. Die kiesersopkoms in die tweede ronde vanjaar was 63,6%.

Op die oog af lyk die kiesersopkoms nie veel beter as in Suid-Afrika, waar dit volgens die OVK se syfers tydens die nasionale verkiesing in 2024 op 58,64% gestaan het nie. Die groot verskil lê daarin dat die Colombiaanse kiesersopkoms gemeet word as ’n persentasie van stemgeregtigde burgers, terwyl dit in Suid-Afrika uitgedruk word as ’n persentasie van die geregistreerde kiesers. Indien appels met appels vergelyk word, en Suid-Afrika se kiesersopkoms op dié manier gemeet word, sou dit volgens die Verkiesingsinstituut vir Volhoubare Demokrasie in Afrika in 2024 minder as 41% gewees het.

Sterk kompetisie tussen kandidate help natuurlik om kiesers by die stembus te kry, maar sedert Colombia die Wet op die Vestiging van Aansporings vir Kiesers 403 van 1997 aanvaar het, het die kiesersopkoms mettertyd verbeter. Een van die bepalings van dié wet is dat ’n kieser geregtig is op ’n halwe dag betaalde verlof vir elke rondte van die verkiesing, maar slegs as hy of sy gaan stem.

As ’n reël word daar in Suid-Afrika ’n vakansiedag afgekondig vir die genot van alle burgers – ongeag of hulle gaan stem of nie. Of ’n soortgelyke stelsel in Suid-Afrika kiesers na die stembus sal lok, gegewe die hoë werkloosheidsyfer, is ’n ope vraag. Nóg ’n ope vraag is of só ’n stelsel die profiel van mense by die stembus, en veral die middelklas, sal beïnvloed.

Ingevolge Colombia se wetgewing word alle stemgeregtigde burgers se name outomaties op die kiesersrol geplaas. Of Suid-Afrika by iets soortgelyks sal baat, is ’n hele gesprek op sy eie.

Versfeld is ’n provinsiale mediabeampte met familie in Colombia, maar dié mening is sy eie.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-73-03-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Untitled design (10)

TLU SA: Daar lê ’n reusetaak voor

Untitled design (9)

R1,1 miljoen se konsultasiegeld vir bergingsfasiliteit wat nie staan nie

Untitled design (7)

DA eis NVG moet verduidelik oor Matlala-ooreenkoms

Untitled design (6)

Dié SAID-vorm is verpligtend, maar werk nie

Internasionale Perspektief nuut

VSA kan steeds die land van vryheid én tuiste van die dapperes wees

Ander Nuus Artikels

Padlangs
O, aarde! Oggende en opstaantyd!
Untitled design (11)
3 000 kruise in September voor Withuis opgerig
Untitled design (10)
TLU SA: Daar lê ’n reusetaak voor
Untitled design (9)
R1,1 miljoen se konsultasiegeld vir bergingsfasiliteit wat nie staan nie
Untitled design (7)
DA eis NVG moet verduidelik oor Matlala-ooreenkoms

Luister nou