Luister nou

So kom kampvegter teen korrupsie tot ’n val

Deur Redaksie

Seugnet van Zyl

Dr. Lewelyn Curlewis, strafregkenner, sê hy sal nie verbaas wees nie as adv. Andrea Johnson, voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (Idac), minstens tereg sal staan op meineed omdat haar getuienis onder eed voor die Madlanga-kommissie (wat misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie ondersoek) wesenlik verskil het van die bevindinge van die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van polisiekorrupsie ondersoek.

“Wanneer jy leuens onder eed vertel, kan jy van meineed aangekla word. Jy kan nie onder eed aan die een kant een ding sê en aan die ander kant iets anders sê nie. Dit is doodeenvoudig leuenagtige getuienis.”

Johnson het die afgelope week ’n skrywe aan president Cyril Ramaphosa en adv. Andy Mothibi, nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, gerig waarin sy vra om binne 24 uur van haar pligte onthef te word. Ramaphosa het Johnson se bedanking onmiddellik aanvaar.

Sy het in die brief aangevoer dat dit ’n uitdagende vyf maande was waarin sy in haar persoonlike en beroepslewe ongekende aanvalle moes verduur. Luidens die brief sê Johnson dit is vir haar ’n moeilike versoek om te rig, gegewe haar “absolute liefde en toewyding” aan die pos.

Johnson het verlede week ’n uitdagende paar dae voor die Madlanga-kommissie gehad. Idac is deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, daarvan beskuldig dat dié waghond inmeng by misdaadintelligensie se mensehulpbronaangeleenthede. Johnson moes Idac se hantering van sake by die kommissie verdedig het.

Dit sluit onder meer in die klag van korrupsie en bedrog teen lt.genl. Dumisani Khumalo, hoof van Misdaadintelligensie. Khumalo is deur Idac in hegtenis geneem vir die aanstelling van Dineo Mokwele, wat van buite die polisie gewerf en as brigadier aangestel is. Oudregter Mbuyiseli Madlanga, voorsitter van die kommissie, het Johnson se regskennis, wat oor drie dekades strek, bevraagteken na aanleiding van haar hantering van hierdie saak.

Curlewis sê die publiek is teleurgestel oor die verloop van haar getuienis by die Madlanga-kommissie.

“Ek wonder wat met daardie formidabele staatsaanklaer gebeur het wat by hoëprofielsake betrokke was en eens gelyk het of sy Idac kan regruk. Sy wou selfs die ou Skerpioene laat herleef. Daar is van haar niks oor nie!”

Volgens Curlewis bly enige strafregtelike of siviel-regtelike aanspreeklikheid teen Johnson steeds van krag.

“Die feit dat sy bedank het, beteken nie dat die saak in die niet gaan verdwyn nie. Sou sy haar skuldig gemaak het aan enige statutêre of gemeenregtelike misdaad, kan sy daarvoor gearresteer word en in ’n hof van haar optrede moet rekenskap gee. As enigiemand kan bewys sy was direk of indirek verantwoordelik vir skade wat hulle gely het, kan sy as respondent of verweerder by ’n siviele eis gevoeg word. Indien iemand onnodig of onregmatig aangekla is, kan dié haar dagvaar.”

Die Regspraktisynsraad (LPC) sal waarskynlik ook Johnson se geskiktheid en gepastheid as advokaat in die afsienbare toekoms moet oorweeg.

 

Wie is adv. Andrea Johnson?

Andrea Johnson het vir byna drie dekades in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedien. Vroeg in haar loopbaan, in 1999, het sy deel van die elite-eenheid, die Skerpioene, gevorm.

Sy het as ’n noukeurige en formidabele aanklaer bekend gestaan en het in 2010 as staatsaanklaer gehelp om die voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi, aan korrupsie en bedrog skuldig te laat vind. Johnson het ook ’n sleutelrol gespeel in die Skerpioene se ondersoek na en vervolging van Brett Kebble. Tussen 2013 en 2014 het sy adv. Gerrie Nel bygestaan in die vervolging van die paralimpiese atleet Oscar Pistorius.

Johnson is in Februarie 2022 deur pres. Cyril Ramaphosa as die hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (later Idac) aangestel om hoëvlakkorrupsie en ernstige ekonomiese misdade te ondersoek.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-77-31-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Sisi Khampepe chairperson  of the TRC commission of inquiry in Johannesburg. Photo Veli Nhlapo

Konstitusionele hof wys aansoek van die hand

Fotokrediet: Netwerk24

Konflik tussen Iran en die VSA vlam weer op

Padlangs

Wees lig!

Internasionale Perspektief nuut

VSA kry oorhand oor Iran

Untitled design (31)

Ek staan hier sonder hare of borste

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: Netwerk24
Ontdekking in Pafuri-gebied dui op pre-koloniale handel
Brandstof 1
Brandstofpryse styg hoër vanaf middernag
Stefan2
Tembisa-tenderskandaal: Beweerde meesterbrein kry borgtog
Sisi Khampepe chairperson  of the TRC commission of inquiry in Johannesburg. Photo Veli Nhlapo
Konstitusionele hof wys aansoek van die hand
Fotokrediet: Netwerk24
Konflik tussen Iran en die VSA vlam weer op

Luister nou