Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, sê hy sal hom nie laat intimideer in aanloop tot sy getuienis voor die parlement se ad hoc-komitee aanstaande week nie.
Lede van die Nasionale Intervensie-eenheid, die Spesiale Taakmag en Misdaadintelligensie het gister op sy woning in Centurion toegeslaan en op verskeie elektroniese toestelle beslag gelê.
Die klopjag is deel van ’n voortgesette ondersoek na misdaadkartelle in Gauteng.
Hy sê hy sal sy naam verdedig, maak nie saak wat oor sy pad kom nie.
Sibiya se prokureur, Ian Levitt, wat ook tydens die klopjag teenwoordig was, sê hulle sal eis om die beëdigde verklaring te sien waarop die deursoekings- en beslagleggingslasbrief gegrond is.
Die klopjag volg nadat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, beweer het dat Sibiya bande met misdadigers in Gauteng het.
Die nasionale polisiewoordvoerder, brigadier Athlenda Mathe, het bevestig dat niemand tot dusver in verband met die aangeleentheid in hegtenis geneem is nie.