Redaksie
Die hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl, sê die regering het die plattelandse gemeenskap in die steek gelaat.
“Die regering moet eerstens kyk na die algehele veiligheid van ’n land se inwoners. Daarvoor het hy ’n polisiemag en die mandaat om wetgewing te skep om misdaad te beheer. Die totale stelsel, van die polisiemag na die regspleging en korrektiewe dienste is in sy hande om seker te maak dat sy inwoners veilig kan woon.”
Volgens Van Zyl kan die regering se mislukkings teruggevoer word na die beleidsomgewing waar die regering onder meer kaderontplooiing en ras bo kundigheid gekies het.
“In die landelike gebied sit jy met ’n baie blootgestelde landelike gemeenskap, die boer en sy werkers, waar mense ver van mekaar af woon, en daar is ’n persepsie dat daar geld, wapens en middele van waarde is wat gesteel kan word. En dit is een van die aspekte wat ook ’n stimulus is van misdaad in die platteland.”
Van Zyl sê verder dat daar ’n kultuur in die land is wat oor tyd heen gevestig is en wat in die huidige politieke klimaat gedy:
“Daar is ’n opvatting dat blankes in die land ingekom het, dat hulle die grond by regmatige eienaars gesteel het, dat hulle nou die nasate van dié eienaars iets skuld, dat hulle welvaart vir hulleself hou. En hier is ’n soort opeiskultuur by ’n groot deel van hierdie land se inwoners.”
Van Zyl sê dit kan onder meer toegeskryf word aan ’n leierskapsprobleem met leiers wat inwoners nie reg lei en verteenwoordig nie.
“Die regering het ’n verantwoordelikheid om geweldsmisdaad, alle misdaad, te bekamp. Dit is sy taak, dit is hoekom hy daar is, dit is hoekom hy belastinggeld vat.”
Van Zyl sê boere het, weens die gebrekkige optrede van die regering, nie ’n ander keuse as om na hulle eie veiligheid om te sien nie. Ook omdat hulle vertroue in die polisie verloor het weens die feit dat hooggeplaastes in die polisie self dikwels aan misdade verbind word.
“Hierdie goed gaan alles terug na die huidige regering. Hy het die verantwoordelikheid om hierdie goed te hanteer. Eers moet die regering die politieke wil vertoon om in te gryp, dan moet die polisie gesuiwer word van korrupsie en misdadigers in sy eie geledere om te verseker dat die land ’n betroubare polisiemag het, wat opgelei en toegerus is met die nodige middele, en dit gebeur nie. Nou sit ons met hierdie ontsaglike prys wat deur die landelike gemeenskap betaal word.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek- https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-69-05-11-Jun-2026-1.pdf