Pretoria FM se gewilde vasvraprogram 10 uit 10 het Woensdagmiddag 9 April sy heel eerste wenner opgelewer. Die gelukkige luisteraar is Paul van der Walt, HUB van ’n klein staalkonstruksiemaatskappy, wat al 10 vrae korrek beantwoord het en wegstap met R18 000 kontant!
Paul, wat al jare lank na Pretoria FM luister, was duidelik geroer toe hy besef het dat hy gewen het. “Prys die Here, amen!” het hy herhaaldelik gesê.
Die oorwinning kom op presies die regte tyd. “Die wen beteken vreeslik baie vir my en ek gee God al die eer. ’n Klomp groot maatskappye het ons nie betaal nie, en ek het dus nie hierdie maand my salaris getrek nie. Ek kan nou kos op die tafel sit en items koop vir ’n groot projek wat weens ons kontantvloei in die gedrang is.”
Hy voeg met ’n glimlag by: “Toe julle so ’n paar weke gelede gesê het die vrae is dalk te moeilik, het ek ’n whatsapp na die ateljee gestuur en gesê die vrae is nie so moeilik nie.” Hy was reg!
10 uit 10 word elke Woensdag net ná 17:00 op Pretoria FM uitgesaai. Die pot geld groei weekliks met R3 000 totdat iemand al tien vrae reg beantwoord – en dis presies wat Paul gedoen het!
Foto: Paul van der Walt van Kempton Park saam met sy gesin. (verskaf)