Luister nou

Pres. Cyril Ramaphosa – SA moet onwettige immigrasie uitwis

Deur Pretoria FM Nuusspan

President Cyril Ramaphosa het ’n vierledige opgeskerpte strategie teen onwettige buitelandse burgers aangekondig.

Dit sluit in:

1) Optrede teen oortredings van bestaande immigrasie-, arbeids- en ander wette;

2) Die bekamping van onwettige migrasie na Suid-Afrika;

3) Die uitwissing van korrupsie in die immigrasiestelsel; en

4) Samewerking met ander Afrika-lande om migrasieuitdagings in vennootskap volhoubaar te takel.

Die president het die land oor die toenemende immigrasieuitdagings asook geweld teen buitelandse burgers wat in verskeie provinsies opgevlam het toegespreek.

Gespesialiseerde howe sal daargestel word om immigrasieverwante sake spoediger te hanteer sodat deportasie vinniger kan geskied.

Geteikende inspeksies deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Departement van Indiensneming en Arbeid asook Binnelandse Sake by ondernemings wat ongedokumenteerde buitelanders in diens neem sal in intensiteit toeneem.

Diegene wat hulself skuldig maak aan die oortreding van die Immigrasiewet sal deur verskerpte strafmaatreëls – insluitend tronkstraf – in die gesig gestaar word.

Pres. Ramaphosa het gesê Suid-Afrikaners het hul frustrasies oor buitelandse immigrante begin uiter oor onder meer werksverliese, druk op dienslewering, veiligheid en sekuriteit en dat hul kommer verdien om aandag te geniet.

“Die basiese beginsel waaroor ons almal saamstem, is dat elke persoon binne die grense van Suid-Afrika wettiglik hier behoort te wees. Elke persoon wat in ons land werk, moet wettiglik gemagtig wees om te werk. Elke persoon wat ’n onderneming hier bedryf, moet dit wettig doen. Die uitdaging waarmee ons egter te kampe het, is dat sommige mense onwettig na ons land gemigreer het en steeds onwettig hier is,” het Ramaphosa gesê.

Ramaphosa het toegegee dat onwettige migrasie wat buite beheer raak ’n gevaar vir Suid-Afrika se veiligheid, stabiliteit en ekonomiese vooruitgang kan inhou, maar dat buitelandse burgers binne die landsgrense gerespekteer en nie geteiken moet word nie.

“Ek moet dit duidelik stel dat slegs gemagtigde regeringsamptenare mag optree teen oortredings van die wet, insluitend oortredings van ons immigrasiewette. Geen ander persoon word toegelaat om byvoorbeeld iemand op straat te konfronteer en bewys van nasionaliteit te eis nie. Ons weet dat Suid-Afrikaners nie xenofobies is nie, aangesien daar geen plek vir xenofobie, rassisme, seksisme, Afrofobie of enige ander vorm van onverdraagsaamheid in Suid-Afrika is nie. Ons sal nie toelaat dat groepe die bekommernisse van Suid-Afrikaners gebruik om ons land te destabiliseer deur wetteloosheid en geweld aan te hits nie.”

Hy het gesê daar sal met mag en mening teen korrupte amptenare wat onwettige immigrasie aanvuur opgetree word.

Die instelling van digitale ID’s en die uitfasering van die groen ID-boekies sal bydra tot die uitwissing van identiteitsdiefstal en kriminele sindikate.

Fotokrediet: Leila Dougan/Daily Maverick

 

Gewilde Nuus

River

Hoop stroom oor ná River se redding

Ernst Roets

Lex Libertas aan Roelf Meyer: Wees eerlik

Liam Jacobs

Te vroeg om Liam Jacobs se invloed op kiesers te bepaal

Dawie Roodt

Invloed van brandstofpryse moontlik eers oor twee jaar sigbaar

Bennie van Zyl

Regering het boere gefaal

Ander Nuus Artikels

Placeholder_400x230
Voel jy soms ’n bietjie bang?
SANBS-1024x724
Burgemeesterskandidate, Vodacom Bulls en sangers deel van Pretoria FM se Boei en Bloei-bloedskenkdag
River
Hoop stroom oor ná River se redding
Ernst Roets
Lex Libertas aan Roelf Meyer: Wees eerlik
Liam Jacobs
Te vroeg om Liam Jacobs se invloed op kiesers te bepaal

Luister nou