Luister nou

Papawers in die Vlaamse veld en kosmos op die Hoëveld

Deur Pretoria FM Nuusspan

Willie Spies

Herfstyd is kosmos se blomtyd op die Vrystaatse vlaktes en die die Hoëveld van die ou Transvaal. In die Noordelike Halfrond is dit weer lente en blomtyd van rooi papawers op die Vlaamse velde.

Die noue verbintenis wat vandag tussen papawers en die Eerste Wêreldoorlog bestaan, is te danke aan John McCrae, ’n Kanadese dokter en artillerie-offisier wat tydens die Eerste Wêreldoorlog aan die Wesfront diens gedoen het.

Op 2 Mei 1915 is McCrae se goeie vriend, luitenant Alexis Helmer van die First Brigade Canadian Field Artillery deur ’n Duitse granaat gedood.  McCrae, wat as mediese offisier diens gedoen het, het self die begrafnisdiens waargeneem omdat daar geen kapelaan beskikbaar was nie.  Helmer is begrawe in die oorlogsbegraafplaas Essex Farm, naby die dorpie Boezinge in Vlaandere, België.  Mc Crae, wat diep geaak is deur die gebeure, het ’n gedig op ’n vel papier gekrabbel om sy emosies te verwoord.

Die grond was omgedolwe deur artillerie-vuur, vol loopgrawe en modder, en tussen die vars grafte het rooi papawers in oorvloed begin blom.

In Flanders fields the poppies blow / between the crosses, row on row, / that mark our place; and in the sky / the larks, still bravely singing, fly – lui die eerste strofe van die gedig.

McCrae was self nie tevrede daarmee nie. Hy het dit eers in die vullisblik gegooi, maar ’n kollega het dit uitgehaal en na die tydskrif Punch in Londen gestuur.

Die gedig is eers anoniem op 8 Desember 1915 gepubliseer en het onmiddellik daarna ’n sensasie geword. Binne weke is dit oor die hele Britse Ryk en in Amerika herdruk. Dit is in skole, kerke en parlemente voorgelees. Die gedig het die papawer onuitwisbaar as simbool gevestig: nie net van dood nie, maar van opoffering, plig en die voortsetting van die Eerste Wereldoorlog en alle groot konflikte daarna.

Die rooi papawer is nie net ’n blom nie; dit is ’n embleem van bloed, opoffering en hoop.

As ons in Suid-Afrika ’n blom moes kies wat ons op soortgelyke maniere herinner aan die smarte van die Anglo-Boereoorlog, met sy broedertwis, konsentrasiekampe en vroue- en kindersterftes, sal dit bes moontlik kosmos wees. Dit was juis 124 jaar gelede in April 1902 dat die eerste samesprekinge begin het om ’n einde te bring aan die oorlog wat ook al as die Groot Suid-Afrikaanse Oorlog bekend geword het.

Kosmos is nie inheems aan Suid-Afrika nie, maar sy storie is onlosmaaklik verbonde aan die Anglo-Boereoorlog.

Die blomme, met hul fyn, veeragtige blare en sagte pienk, wit of pers kroonblare, het per ongeluk hier beland as “onwelkome passasiers” in die Britse leër se perdevoer.

Tydens die oorlog het die Britse magte enorme getalle perde ingevoer om hul troepe mobiel te hou in die uitgestrekte Suid-Afrikaanse veld. Volgens historiese rekords is ongeveer 360 000 perde uit die buiteland ingevoer.

Baie van hierdie diere het uit Suid-Amerika gekom, veral Argentinië en Mexiko, waar kosmos inheems is. Die hooibale wat as voer dien en saam met die perde ingevoer is, het ’n tonnemaat kosmossaad bevat.

Toe die Britte hierdie voer per skip, trein en wa binneland toe vervoer het na die Vrystaat, Transvaal en die Hoëveld, het die bale oopgebreek en is die voer uitgesprei. Die saad het in die verstoorde grond langs spoorlyne, paaie en kampe ontkiem.

Vandag, meer as 120 jaar later, groei kosmos nog presies langs daardie ou roetes: ’n lewende kaart van Britse troepebewegings. Wat as ’n byproduk van oorlog begin het, het ’n ikoniese herfsvertoning geword wat Suid-Afrikaners met trots en weemoed assosieer.

Die oorlog was ’n reusekonflik in Suid-Afrikaanse terme. Aan Britse kant was daar ongeveer 347 000 gereelde troepe, plus 103 000 tot 153 000 koloniale magte en sowat 100 000 Afrika-hulptroepe – ’n totale mag van meer as 450 000 man. Die Boeremagte was veel kleiner: sowat 25 000 uit Transvaal, 15 000 uit die Vrystaat, 6 000 tot 7 000 Kaapse rebelle, en ’n paar duisend buitelandse vrywilligers, met ’n piek van ongeveer 60 000 in die veld.

Aan Britse kant het 22 092 soldate gesterf. Aan Boerekant was daar 6 189 militêre sterftes. Maar die ware tragedie lê in die konsentrasiekampe: meer as 26 370 Boerevroue en -kinders het gesterf weens hongersnood, siektes en swak toestande, terwyl meer as 20 000 swart Suid-Afrikaners in aparte kampe omgekom het.

Die totale burgerlike sterftes het die militêre sterftes oorskry, ’n skandvlek wat vandag nog rou herinneringe oproep. Die kosmos wat tans weer een en ’n kwart eeu later in blom is, dra die herinnering aan hierdie oorlog op ’n unieke manier.

Nie net as ’n sigbare simbool van die slagvelde, aanmarsroetes en kampe nie, maar ook deur ’n volkslegende wat in die Vrystaat en Hoëveld voortleef. Hiervolgens voorspel die kosmos die aard van die komende winter. As daar ’n oorvloed wit kosmos is, dui dit op ’n koue winter. Dieper pienk of pers blomme, of ’n dominansie van kleurvolle variëteite, voorspel ’n matiger winter.  Ou boere en plaaslike inwoners kyk al geslagte lank na die kosmosvelde in Maart en April om hul wintervoorbereidings te tref. Wetenskaplikes skryf dit toe aan grondtoestande en reënvalpatrone wat die saad se kleur en groei beïnvloed.

Soos die papawers die hoop in die modderslagvelde van Vlaandere simboliseer, herinner die kosmos langs die Hoëveldse paaie ons dat selfs uit die puin van oorlog skoonheid, wysheid en gematigdheid kan kry te midde van ’n naderende koue seisoen.

Willie Spies is ’n gereelde rubriekskrywer, prokureur en #1-kandidaat van die VF Plus vir die Tshwane Metroraad

Gewilde Nuus

Untitled design (30)

Duisende moet nog toelaagkaarte omruil

Ernst Roets

Sokkerballe of kruise?

UNISA

UNISA: Minister moet ingryp

Willie Spies

Spies ingesweer as raadslid

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 28 Augustus 2026

Ander Nuus Artikels

Padlangs
Wees lig!
Internasionale Perspektief nuut
VSA kry oorhand oor Iran
Untitled design (31)
Ek staan hier sonder hare of borste
Untitled design (30)
Duisende moet nog toelaagkaarte omruil
Ernst Roets
Sokkerballe of kruise?

Luister nou