Alta Strauss
Einde verlede jaar stap ek deur die strate van Rome, Italië. Die strate stil, maar onderliggend lê ’n onvermydelike outoriteit. “Veni. Vidi. Vici,” eggo die woorde van Julius Caeser steeds met dieselfde ontsag in die krake van die grootskeepse, tydlose argitektuur. “Ek het gekom. Ek het gesien. Ek het oorwin.” Saint Peters en die Vatikaan pryk indrukwekkend soos gedigte uitgeëts in marmer. Ek stap al langs die Tiber, wat my laat terugverlang na my huis; na my mense.
My siel begin vloei tussendeur die herinneringe en hoop van die uitgestrekte vlaktes van die Suiderpunt van Afrika. Die koppies wat in blou en pers uitbreek oor ons dorre landskap wat diepgewortel blom in die binnekamer van my hart. Ons beeldskone kuslyne en Kaapse fynbos. Die rooisandduine van die Kalahari en die Swartbergreeks wat deur die Groot – en Klein Karoo – loop. En ek wéét ek is tuis.
Ek bid. Ek wag. Ek luister. Ek sien hoe die koper refleksie van die son op die water, in ’n ryk dieprooi wegsmelt in die sand tussen die tone van my grootword. “’n Mens moet vastrap soos ’n ramskilpad,” hoor ek my pa se stem. “’n Mens moet jou kant bring. Nie soos dié wat hul hande die saligheid en hul agterend die ewige rus beloof het nie.” My Pa was nog altyd ’n man wat op sy eie manier geen twyfel by mens gelaat het oor presies wat hy vir jou probeer sê nie. Alhoewel baie kostelik, was hierdie ’n groot waarheid van kleins af aan ons geleer!
’n Mens kan nie die heeldag lank wil staan en die dag bekyk nie. As die dag breek, moet ’n mens hom heelmaak. As jy die seën van die Here wil ontvang, moet jy jou hand aan die ploeg slaan. Die reën val oor die saad in die grond, nie die saad in die skuur nie. God bevestig die werk van ons hande; en handewerk is harde werk en aanhou werk. Geloof en hoop ken nie van die Here wil voorskryf nie en maak nie die heeltyd verskonings nie. Nee, dit beteken om te verheug, selfs in swaarkry, met ’n dankbare hart. Want uitdagings kweek volharding. Moeilike tye leer ons om vas te trap soos ’n ramskilpad. Vas te trap en vas te staan in die genade van die Here en te wéét: Sy liefde en genade is meer as genoeg. Dit is alleen daardeur dat ons egtheid van geloof bekom; die hoop wat nie beskaam nie. (Romeine 5)
Ek begin van vooraf verwonderd staan oor die Almag van die Here. Hoe hierdie kosbare briewe van Paulus aan die Romeine hul weg, wonder bo wonder, tot bo-op die groot stinkhouttafel in Oupa en Ouma se kombuis gemaak het. Meegevoer deur vergetelheid se dae.
Dae lank voor kaarte, dink ek aan hoe ons voorvaders ’n land moes bou, sonder om te weet hoe, maar aan God getrou. Nagte waar hulle saam om ’n vuur opgekyk het na die glorieryke sterrekoepel van die hemel. Saam gebid het tot die Here en Hom vertrou het om die rigting aan te wys. Hoe elkeen sy plek vol gestaan het en geen taak groter of meer gering as ’n ander geag is nie, want almal het saam aan een toekoms gebou.
Ek dink aan NP van Wyk Louw se “Die Beiteltjie” en die “bars… wat dwarsdeur die sterre loop”. Ek voel trots, maar terselfdertyd ervaar ek ook die druk van die verantwoordelikheid wat nou op my skouers rus: Wat gaan ek met die beiteltjie aan my toevertrou maak? Ek wil met groot blink oë en breë bors, trots rekenskap kan gee! Het jy gedink aan wat jy met jou beiteltjie wil maak?
Michelangelo, dink ek! Ek wil met my beiteltjie soos Michelangelo die plan wat die Here vir my lewe het in die marmer sien en met ywer kerf totdat dit tot kunswerk kom. Met my beiteltjie wil ek werk en veg met lojaliteit en vasberadenheid soos die van die Bittereinders van ouds. Enduit. Met my beiteltjie wil ek my losmaak van wat agter is en bou aan dit wat voor my is, sodat ek my hemelse oorwinningsprys in besit kan neem.
Dit sal die beiteltjie wees wat ek graag wil nalaat. Ek het gekom. Ek het gesien. Ek het oorwin. Ek het vasgetrap soos ’n ramskilpad.
Strauss is ’n skywer en motiveringspreker.