Deur: Willie Spies
Dag Adriaan
Jy is mos ’n persoon wat hou van ope briewe.
Ek onthou hoe jy jou vriende en vyande in 2013 geskok het met jou leedvermakerige, afknouende ope brief aan ’n 11 jaar oue, hartseer dogtertjie, Cemoné du Toit, toe haar pa vir 20 jaar tronk toe gestuur is weens sy Boeremag-aktiwiteite.
Jy het jou verkneukel in die leed van ’n jong kind wat sonder ’n pa sou moes grootword weens die foute wat hy gemaak het, en dit uitbasuin in ’n misplaaste ope brief, vir die wêreld om kennis te neem.
Dis in die tyd toe jy redakteur van Beeld was.
Jou redakteurskap van Beeld was rampspoedig, want jy het twee goue joernalistiek-reëls geminag: eerstens dat ’n joernalis nie ook ’n aktivis kan wees nie, en tweedens dat jou lesersmark jou publikasie se grootste bate is, ’n bate wat gekoester moet word.
Jy verstaan dit hoegenaamd nie, want jy koester nie jou lesersmark nie – jy verklaar hulle tot jou vyand.
Jy het dit eers gedoen met jou onsinnige “onthulling” oor ’n “Nazi-saluut” op die PUK-kampus van die Noordwes-Universiteit destyds, en daarna met die laakbare ope brief aan ’n 11-jarige kind.
As jy nie deur jou base weggeneem is by Beeld en uiteindelik by News24 geëindig het nie, sou die koerant waarskynlik 10 jaar vroeër toegemaak het. Jou opvolgers by Beeld moes die koerant red van jou vernietigingswerk.
Meer onlangs het jy en News24 Wilgenhof koshuis by Stellenbosch Universiteit geteiken en jy het jou bes gedoen om ’n trotse instelling met ’n eeu oue geskiedenis net tot niet te maak. Was dit nie vir die toetrede van oud-Wilgenhoffers wat oud-konstitusionele regter Edwin Cameron ingesluit het nie, sou Wim de Villiers jou jou sin gegee het en die vernietigingswerk afgehandel het.
Net nou die dag het jy weer ’n ope brief geskryf: dié slag aan die miljardêr Elon Musk – asof Elon Musk hom aan jou sal steur.
In die ope brief aan Elon Musk het jy te velde getrek teen die feit dat Musk Julius Malema se “kill the Boer, kill the farmer” as aanstigting tot geweld teen minderhede beskou.
Jy beskuldig dan vir Musk dat hy “fopnuus, verkeerde inligting en blatante leuens op X toelaat”, maar jou eie ope brief het gewemel van leuens.
Jy noem daarin dat “honderde navorsers bevestig het dat die primêre motivering vir moord hebsug is”.
Dis ’n leuen, wat reeds deur die gerespekteerde joernalis James Myburgh uitgewys is: In 2022/23 het die polisie vasgestel dat slegs 1 468 (5%) uit 27 494 moorde roofverwant is. Volgens die polisie se amptelike syfers is hebsug dus slegs in 5% van moorde die beweegrede.
Nog ’n leuen wat jy in die ope brief aan Musk verkondig het, is dat die oud-DA LP en sosialemediakommentator Renaldo Gouws in 2010 gevra het vir die doodmaak van swart mense.
Hy het nie. Hy het kritiek gelewer op die “kill the Boer”-haatkreet en dit op sosiale media vergelyk met ’n oproep om swart mense te teiken.
Maar dis jou probleem, Adriaan. Jy laat nie die waarheid in die pad staan van ’n lekker scoop op News24 nie. Solank jy sagte teikens met halfgebakte woke stories kan uithaal omdat jy geen hond haaraf maak in die stryd teen die korrupsie van die mafiabewind van die ANC nie.
Jou laaste set was vir my die kersie op die koek.
Toe Elon Musk hom nie aan jou ope brief vol leuens steur nie, gebruik jy een van jou ewe bedenklike verslaggewers om twee maande lank te soek na maniere om ’n anonieme X-profiel waaraan Musk hom skynbaar wel steur, te “ontmasker”. Toe jy dit regkry, ignoreer jy regsbriewe wat pleit om die privaat inligting van jou slagoffer te beskerm en jy publiseer adresbesonderhede oor sy sake-onderneming, sy vrou, sy ouers en hulle familieplaas op jou nuus-webwerf.
Wat wil jy daarmee regkry? Ek dink ek weet.
Sagte teikens gee jou daardie magsbevrediging wat jy so graag soek: ’n grootheidswaan wat jou laat voel jy maak ’n verskil, al rig jy niks uit, behalwe om te vernietig nie.
Jy dink dat as jy sagte, wit teikens uithaal en aan die gepeupel oorhandig, dan sal die mafiabase in die ANC en EFF jou vertrou en jou onthullings oor hulle korrupsie in ’n ernstige lig beskou.
Jy maak ’n bitter gevaarlike fout, Adriaan.
Ek het so twee weke terug agtergekom dat ek al ’n geruime tyd R99,00 per maand bydra vir toegang tot News24 se “stories”. Ek het genoeg daarvan gehad.
Ek het dit gekanselleer.
Jy kan jou webwerf bedryf soos jy wil en jou base jou toelaat, maar nie met my ondersteuning nie.
Gegroet
Willie Spies
(Verklaring van belang: Willie Spies is ’n direkteur in die regsfirma Hurter Spies Ing. wat as prokureur van mnr Sebastiaan Jooste optree)
3 Responses
Tien uit tien vir jou Willie°°°
Dankie vir jou insiggewende mededeling Willie. Haal hierdie manne en vroue vir ons uit en ontbloot hulle. BRAVO!!!!
Dankie vir jou werk, Willie!