“Ek wonder of die perd nie vir ActionSA gaan afgooi nie.”
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê hy reken die party oorskat hulle posisie in die koalisie-onderhandelings wat tans plaasvind.
“Hulle gaan van die standpunt uit dat ’n kleiner party belangriker is as ’n groter party.”
Duvenhage sê hy verneem die ANC se nasionale uitvoerende komitee voer tans gesprek oor die moontlikheid om ’n strategiese ooreenkoms met partye te sluit om regerings te vorm.
Volgens Duvenhage is daar ’n paar moontlike scenario’s. Dit sluit in dat die ANC die kern van ’n koalisie kan vorm en met linkse partye soos die EFF en die MK-party saamwerk. So ’n koalisie sal ActionSA insluit.
Nog ’n moontlikheid is dat die ANC en die DA kan saamwerk of dat die DA met ander partye, soos ActionSA, ’n koalisie kan vorm. Duvenhage sê die feit dat die onderhandelinge op nasionale vlak gevoer word, beteken dat die partye verskillende munisipaliteite op verskillende maniere kan benader en selfs toegewings kan beding. Dit kan beteken dat een party die leiding in byvoorbeeld Upington neem en ’n ander in Johannesburg.
Duvenhage sê die uitkoms gaan baie afhang van watter rigting ActionSA met die koalisie-onderhandelings inslaan.
“Hier is tans gesprekke aan die gang wat ons letterlik kan uitbring by enige scenario kan uitbring.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-93-13-Nov-2026.pdf