Redaksie
Lucia van Wyk is reeds welbekend in Afrikanerkringe as die uitvoerende hoof van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) en is nou as die eerste vroulike voorsitter van die direksie van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting sedert sy opening in 1949 aangewys.
Van Wyk het aan Nuusweek gesê dat die Voortrekkermonument sinoniem is met die Afrikaner.
“Dit is ’n baken wat mens van ver kan sien. As jy voor die Monument staan, dwing dit jou om op te kyk en dan besef jy hoe klein, afhanklik en nietig ons as mense eintlik is. As jy van bo af ondertoe kyk, sien jy baie ver en wyd.”
Van Wyk sê sy beskou haar verkiesing as voorsitter as ’n groot voorreg maar ook as ’n baie groot en wye verantwoordelikheid.
“Vorige voorsitters het diep spore gelaat, dus het ek groot skoene om vol te staan. Soos wat die vrou-en-kinderbeeld voor die Monument staan, word sy en die kinders omring met vier groot manne rondom die gebou wat reg is vir die stryd. So glo ek, staan ek ook tussen sterk Boere wat steeds gereed en gewillig is om te help om ons erfenis te beskerm, te bewaar en uit te bou, met vele vroue en kinders om daarin te deel. Ons is bevoorreg om ’n direksie vol kundiges te hê, dus is dit ’n voorreg om op hierdie manier van diens te wees. Dit sal beslis ’n spanpoging moet wees.”
Van Wyk het ook die besturende direkteur, dr. Danie Langner, en sy personeel se lof besing.
En met die aalwyne wat tans in hulle wintergewaad pronk en voëltjies wat vrolik kwetter, skep die terrein ’n rustigheid en kalmte te midde van al die bedrywighede en uitdagings op die terrein. As jy al die trappe tot bo geklim het en die pragtige wye uitsig sien, verduidelik van Wyk, dan besef ’n mens al die opofferings is die moeite werd.
“Niks wat die moeite werd is, kom sonder opoffering nie. Dit dwing mens om op te kyk, saam te staan en saam vorentoe te beweeg. Ek sien uit na my termyn as voorsitter om met almal vir wie die Monument belangrik is hande te vat en dit te help uitbou.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/NUUSWEEK-Uitgawe-72-26-Jun-02-Jul-2026.pdf