Luister nou

Nuuskommentaar – Mynbou: Die “roofdier” wat die Krugerwildtuin kan verskeur

Deur Pretoria FM Nuusspan

Deur Zel-Marí Gelderblom & Lambert de Klerk

In die noordooste van Suid-Afrika, waar die Krokodilrivier die suidelike grens van die Nasionale Krugerwildtuin vorm, woed daar al langer as ’n dekade ’n stryd oor grond, nalatenskap en regswaardes. Wat as stille prospektering deur onbekende mynmaatskappye begin het, het teen 2025 ontaard in een van die land se mees omstrede omgewingskonflikte.

Die publiek het egter eers in 2018 breedvoerig kennis geneem van dié gevaar, toe Manzolwandle Investments, ’n obskure maatskappy van Emalahleni, ’n gewaagde voorstel ingedien het om steenkool te ontgin op sowat 18 000 hektaar grond teenaan die Krugerwildtuin.

Die teenreaksie was onmiddellik en heftig. Omgewingsbewustes, toerisme-operateurs, plaaslike boere en inwoners het saamgestaan teen die plan. AfriForum en die Marloth Park-belastingbetalersvereniging het ’n belangrike rol gespeel in regsaksies en openbare teenstand. Hul besware, gegrond op omgewingswetgewing en administratiewe geregtigheid, het gefokus op gebrekkige konsultasie en foutiewe omgewingsimpakstudies.

Teen 2022 het dieselfde projek weer kop uitgesteek hierdie keer as Tenbosch Mining, met nuwe omgewingskonsultante, Kimopax en ’n aansoek vir mynbouregte op ’n kleiner gebied van 6 500 hektaar.

In September 2023 het Oscar Mthimkhulu, hoof van die Nasionale Krugerwildtuin, aan Kimopax geskryf en hul omgewingsimpakstudie gekap. SANParke het boonop glo eers deur derde partye van die mynplan gehoor en nie deur amptelike kanale nie. Kimopax het op hul beurt aangevoer dat hulle wel met SANParke gekonsulteer het, maar die amptenare wat hulle genoem het, was lank reeds nie meer in diens van SANParke nie.

AfriForum het die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, dr. Dion George, in Mei vanjaar formeel genader met ’n versoek vir ’n openbare verklaring, ’n ondersoek na die gebrekkige omgewingsimpakstudie en ’n ontmoeting om dié krisis te bespreek. Tot op hede is geen formele reaksie ontvang nie – slegs ’n erkenning van ontvangs.

Regsgewys gaan die saak lankal nie meer net oor steenkool nie. Dit gaan oor administratiewe geregtigheid en openbare verantwoordbaarheid. Benewens die regskwessies is daar ’n veel dieper omgewingsdimensie, en al word daar nie binne die wildtuin gemyn nie, wys navorsing dat mynbou naby bewaringsgebiede dikwels tot onder meer waterbesoedeling en ’n verlies aan biodiversiteit kan lei.

Die Olifantsrivier, wat deur die Kruger vloei, is reeds swaar besoedel vanweë mynbou wat stroomop beoefen word. Nog ’n myn naby die Krokodilrivier kan die hele streek se ekologiese en landboustabiliteit bedreig.

Teen die begin van 2025 was Tenbosch se finale omgewingsimpakstudie steeds op hersiening. Sedert planne vir mynbou aan die suidelike grens van die wildtuin jare gelede gevorm is, het die myn sy naam verander, sy omvang verklein en nuwe konsultante ingehuur. Maar die kern bly dieselfde – daar word beplan om steenkool te ontgin op die drumpel van ’n nasionale natuurskat.

Na afloop van die indiening van die aansoek in Februarie 2025 het dit in Mei aan die lig gekom dat ’n nuwe omgewingsimpakstudie, gedateer Maart 2025, die rondtes doen. Dit laat uiteraard baie meer vrae as antwoorde.

Te midde van prosedurele onreëlmatighede, wetenskaplike vaaghede en wat baie as doelbewuste weglating beskou, hou die Nasionale Krugerwildtuin se verdedigers – van SANParke en ekoloë tot burgerlike organisasies soos AfriForum – steeds moed. Hul wapens? Die Grondwet, omgewingsreg en openbare insae.

Die kernvraag bly egter steeds dieselfde: Sal Suid-Afrika steenkool kies – of bewaring?

 

One Response

  1. Ongelukkig gaan die hele ekosisteem en toerisme vernietig word indien enige mynbou hier voortgesit word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

V

Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie

Mbalula warns those assaulting on-duty police officers

Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Orania

Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Ernst Roets

Wit kruise nou na Uniegebou

Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann

VSA-debat jaag temperature op

Ander Nuus Artikels

Boer tot bord
Wanneer ’n boer vermoor word ….
Internasionale Perspektief nuut
VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit
V (1)
Eerste skenkerleweroorplantings by Raslouw Private Hospital
V
Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie
Mbalula warns those assaulting on-duty police officers
Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Luister nou