Luister nou

Nuuskommentaar: Afrikaans se toekoms op SABC TV

Deur Pretoria FM Nuusspan

Deur: Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) wat op 1 Augustus 1936 amptelik tot stand gekom het, het deur die jare ’n trotse geskiedenis gebou met die lewering van uitnemende nuusdienste en vermaak. Daar is egter tans ernstige twyfel oor die SAUK se onafhanklikheid en swak bestuur plaas die voorbestaan daarvan ook in die weegskaal.

 

Intussen word dit meer duidelik dat die gereelde beskikbaarstelling van die jongste nuus nie vir die SAUK van belang is wanneer dit Afrikaanssprekendes aangaan nie. In Maart 2024 is Afrikaanse nuusbulletins byvoorbeeld van SABC 2 na SABC 3 verskuif, wat ’n verlies van honderdduisende kykers veroorsaak het weens die beperkte ontvangs. Afgesien hiervan, is bulletins verskeie kere glad nie uitgesaai nie. Op kort (of geen) kennisgewing is sportwedstryde in die plek daarvan gebeeldsend, wat kykers en adverteerders nog verder vervreem het.

 

Minder as ses maande later, in Augustus 2024, is besluit dat die Afrikaanse nuusbulletins op Saterdae en Sondae om 18:15 weer na SABC2 sou terugkeer, maar op weeksdae steeds op SABC3 in die 20:30 tydgleuf te sien sou wees. Weer is kykers en advertensie-inkomste ingeboet, maar nog was dit die einde nie …

 

Meer onlangs, op Saterdagaand 5 April 2025, is geen nuusbulletin om 18:15 uitgesaai nie. Geen verklaring is aanvanklik hiervoor aangebied nie, maar gerugte is gehoor dat die bestuur besluit het om Afrikaanse televisienuusuitsendings voortaan oor naweke te staak.

 

Organisasies wat AfriForum en die Afrikaanse Taalraad insluit, het ’n verklaring van die bestuur geëis. Eers op 8 April 2025 is ’n kennisgewing deur die SAUK uitgereik met die verskoning dat die bulletin weens ’n skeduleringsfout weggeval het.

 

In ’n skrywe aan AfriForum gedateer 9 April 2025, voer Nomsa Chabeli, uitvoerende hoof van die SAUK, aan dat Afrikaans ’n belangrike deel van hul uitsaaimandaat bly en dat die uitsaaier verbind bly tot die voorsiening van billike – oftewel “equitable” – toegang tot nuus in al die amptelike tale. Die duiwel lê egter in die detail van die woord “equitable”. Dit is gewoonlik die verskoning om syferspeletjies te speel tot ’n somtotaal gevind word wat die afskaffing van dienslewering in ’n bepaalde taal skynbaar voldoende motiveer.

 

Ten spyte van Chabeli en andere se verskonings en verduidelikings oor 5 April se verdwene nuusbulletin, is daar verskeie fluitjieblasers wat steeds aan onder meer Pretoria FM en AfriForum bevestig dat daar planne was en steeds is om die uitsending van Afrikaanse televisienuus oor naweke te staak.

 

AfriForum het op 8 April 2025 ’n formele versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting aan die SAUK gerig om antwoorde oor die toekoms van Afrikaanse TV-nuusuitsendings te eis. Geen reaksie is nog ontvang nie en intussen daal kykersgetalle steeds.

 

Verlede week is aangekondig dat die gewilde reisprogram Voetspore waarskynlik teen die einde van die jaar van die kassie af gaan verdwyn. Dié program is boonop volgens mediaberigte die laaste Afrikaanse program op SABC 2.

 

Sommige mense vra waarom ’n openbare uitsaaier hoegenaamd nog nodig is, maar vir ’n taal se oorlewing en gesonde groei is dit ’n vereiste dat dit in openbare ruimtes hoorbaar en sigbaar bly. Taal kan net so min slegs ’n privaat inisiatief wees, as wat dit net aan owerhede oorgelaat word.

 

Ons het ’n ereplig in dié verband. Nie alleen vier ons vanjaar die honderdste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal nie, maar dit is ook 101 jaar gelede wat Afrikaans die eerste keer deur klein onafhanklike radiostasies oor die eter laat gehoor is. Dit is ook vandeesweek presies 50 jaar sedert die eerste televisie-uitsending in Suid-Afrika – en dit boonop in Afrikaans – plaasgevind het. Om nou die uitfasering daarvan te aanvaar, sal ’n ondiens teenoor ons voor- en nageslagte wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Mbalula warns those assaulting on-duty police officers

Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Orania

Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Ernst Roets

Wit kruise nou na Uniegebou

Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann

VSA-debat jaag temperature op

Willie Spies

VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit
V (1)
Eerste skenkerleweroorplantings by Raslouw Private Hospital
V
Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie
Mbalula warns those assaulting on-duty police officers
Massaskietvoorvalle eis reeds 100de
Orania
Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Luister nou