Die Grondwethof het ’n kernbepaling van die regering se beplande Nasionale Gesondheidsversekering ongrondwetlik verklaar.
Die hof het artikels 36 tot 40 van die Nasionale Gesondheidswet ter syde gestel, wat die regering se plan sou moontlik maak om te bepaal waar dokters mag praktiseer.
Die uitspraak volg op ’n saak van die vakbond, Solidariteit, wat die regulasies uitgedaag het.
Die hof het ook bepaal dat die staat Solidariteit se regskoste moet betaal.
Solidariteit sê die hofbeslissing verwyder ’n belangrike instrument van staatsentralisering en beroepsbeheer, en beklemtoon dat dokters en ander gesondheidswerkers nie deur die staat as “pionne” hanteer kan word nie.
Die adjunkbestuurshoof van Solidariteit, Anton van der Bijl, sê die uitspraak beteken dat die regering nie deur regulasies professionele persone kan dwing om tekortkominge in die gesondheidstelsel reg te stel nie.