Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema, NSFAS, het meer as 6 500 studente se befondsing gestaak, terwyl daar nog net enkele maande van die akademiese jaar oor is.
NSFAS het op 12 Augustus bevestig dat 6 514 studente nie meer befonds word nie.
Die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, het intussen gesê 2 582 van die 15 522 studente wat aan ’n sogenaamde GAP-ondersoek onderwerp is, het nie aan die akademiese vorderingsvereistes voldoen nie.
Die sake van nog 9 519 studente is egter nog nie afgehandel nie omdat NSFAS op hul uitslae wag.
Akademici en studenteleiers waarsku dat laat befondsingsbesluite studente ernstige finansiële probleme kan veroorsaak.
Die parlement se portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys sê dit is onaanvaarbaar dat studente eers in die tweede semester uitvind dat hulle nie vir befondsing kwalifiseer nie.