Luister nou

Ná Australië: vrese vir Islamterreur in ander Westerse lande

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Die onlangse terreuraanval op Jode op ʼn strand in Sydney, Australië word reeds as die ergste terreuraanval nog ooit in dié land beskou. Vyftien mense is dood en tientalle ernstig beseer nadat ʼn pa en seun wat bande met die Islamitiese Staat-terreurgroep het tydens ʼn Hanukkah-viering op Bondi-strand op Jode losgebrand het. Sedert die aanval neem vrese vir nóg Islamitiese terreuraanvalle in Australië, Nieu-Seeland en regoor Europa toe.

Australië se linkse eerste minister was eers teen Dinsdag bereid om te erken dat die aanval ʼn vorm van Islamitiese terreur was. Dít nadat hy Sondag en Maandag slegs oor strenger wapenwette en sogenaamde “regse ekstremisme” gepraat het. Anthony Albanese beoefen al vir jare volstruispolitiek deur die bedreiging van Islamitiese terreur deur sy land se groeiende Moslembevolking te ontken.

Die twee aanvallers, Sajid en Naveed Akram, het vlae van die Islamitiese Staat in hul motor gehad en was verlede maand in die Filippyne, waar hulle deur ʼn ekstremistiese sel van die Islamitiese Staat opgelei is om ʼn massamoord uit te voer. Hierdie opleidingskampe berei voornemende terroriste van regoor die wêreld voor om terreuraanvalle uit te voer.

Reeds in 2019 is die twee aanvallers as ʼn veiligheidsbedreiging geïdentifiseer weens hul bande met die Islamitiese Staat. Tog het die owerhede in Australië geweier om iets daaraan te doen. Australiërs, en veral Jode in Australië, behoort Albanese en sy linkse regering direk aanspreeklik te hou vir Sondag se aanval.

Albanese weier natuurlik om die olifant in die vertrek op sy naam te noem: immigrasie na Australië en die rol van die Moslembevolking in sy land, sowel as in ander Westerse lande. Een persoon wat die afgelope week wel bereid was om hierdie probleem op sy naam te noem is Tulsi Gabbard, die Amerikaanse direkteur van nasionale intelligensie.

In ʼn plasing op sosiale media het Gabbard Sondag se aanval direk gekoppel aan Islamitiese ekstremisme en ongekontroleerde immigrasie. Sy voer tereg aan dat hierdie soort aanvalle ʼn direkte gevolg is van Westerse lande se beleidsmislukkings. Massa-immigrasie uit Moslemlande skep volgens Gabbard ʼn terreurbedreiging in byna elke Westerse land.

Volgens Gabbard is die doelwit van Moslemimmigrante die volledige Islamisering van Westerse lande. “Islamiete en Islamisme is die grootste bedreiging vir die vryheid, veiligheid en voorspoed van die Verenigde State en die hele wêreld. Dit is waarskynlik te laat vir Europa – en miskien Australië. Dit is nie te laat vir die Verenigde State van Amerika nie. Maar dit sal binnekort wees. Gelukkig het president Trump die beveiliging van ons grense, die deportasie van bekende en vermeende terroriste en die stop van massa-, ongekontroleerde migrasie wat Amerikaners in gevaar stel, geprioritiseer,” aldus Gabbard.

Die afgelope paar dae het owerhede in verskeie Duitse stede Islamitiese terreuraanvalle op Kersmarkte gefnuik. In Beiere is ʼn hele netwerk van Islamitiese terroriste – afkomstig uit drie lande en almal individue wat as “vlugtelinge” na Duitsland gegaan het – net betyds ontdek voordat hulle ʼn aanval op ʼn Kersmark kon uitvoer. In Magdeburg, waar ʼn terreuraanval verlede jaar op ʼn Kersmark uitgevoer is, het die polisie die afgelope week weer ʼn aanval deur ʼn 21-jarige immigrant verhoed.

In Pole is ʼn aanval op ʼn Kersmark ook die afgelope week voorkom. In baie Europese lande sien ons tans voorkomende maatreëls wat daarop gemik is om Islamitiese terreuraanvalle te voorkom. In Frankryk het nasionale veiligheidsagentskappe besluit dat die risiko vir ʼn aanval so groot is dat die jaarlikse Nuwejaarsviering in Parys gekanselleer is. Verlede jaar het meer as een miljoen mense in die ikoniese Champs-Élysées bymekaargekom met die aanbreek van die nuwe jaar. Vanjaar sal geen viering moontlik wees nie.

In dorpe en stede regoor Westerse lande was daar die afgelope paar weke aanvalle op Kersbome, Kersliggies en enige uitbeelding van die Christelike herdenking van Jesus se geboorte. Terwyl Joodse gemeenskappe regoor Westerse lande sedert Sondag se aanval in Australië ekstra sekuriteit benodig het, is dit duidelik dat immigrantebevolkings in Westerse lande, soos wat hul getalle toeneem, ook geen Christelike uitdrukkings van geloof sal duld nie. In Duitsland is die jaarlikse Kersmarkte vir die miljoene Moslemimmigrante wat die afgelope paar jaar in Duitsland ingestroom het, iets wat vernietig moet word.

Sondag se aanval op Jode in Sydney moes as geen verrassing vir die owerhede in Australië gekom het nie. Israel se intelligensiediens het maande gelede reeds ʼn waarskuwing aan Australië se veiligheidsdienste gerig oor ʼn moontlike terreuraanval. Talle aanvalle op Joodse sinagoges regoor Australië het die afgelope paar maande plaasgevind.

Netso is die tekens vir groter Islamitiese terreur regoor Westerse lande sigbaar. Die vraag is bloot: wanneer sal die volgende groot aanval plaasvind? Intussen tree slegs die VSA daadwerklik op deur massadeportasies, die beëindiging van vlugtelingprogramme uit Moslemlande en ʼn aktiewe poging om die Islamisering van Amerikaanse gemeenskappe te stuit. Sal ander Westerse lande betyds wakker skrik of is Gabbard reg dat dit waarskynlik reeds te laat vir hulle is?

Kleynhans is hoof van openbare skakeling by Solidariteit.

Gewilde Nuus

Willie Spies

VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 2 Oktober 2026

Fotokrediet: The Citizen

Tshwane-metro bied spesiale vlugte vir bejaardes by lughawe

Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves

Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam

Senzo Mchunu - The Witness

Die OB ondersoek Senzo Mchunu

Ander Nuus Artikels

Orania
Oraniërs stem anders in komende verkiesing
Ernst Roets
Wit kruise nou na Uniegebou
Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann
VSA-debat jaag temperature op
Willie Spies
VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 2 Oktober 2026

Luister nou