Luister nou

’n Aanval op die hart van Amerika

Deur Redaksie

Op 11 September 2001 word die wêreld geruk deur ’n aanval op die Verenigde State van Amerika, toe eers een en later ’n tweede passasiersvliegtuig in die Wêreldhandelsentrum in New York vasvlieg. Later tref nog een die Amerikaanse verdedigingsmagte se hoofkantoor, die Pentagon. ’n Vierde stort in Pennsilvanië neer nadat passasiers beheer van die vliegtuig probeer oorneem, en sodoende word ’n aanval op die Amerikaanse Kongres afgeweer.

Die hoof van Internasionale Skakeling by Solidariteit, Jaco Kleynhans, sê die terreuraanval op die VSA 25 jaar gelede was ’n reuseskok vir die magtigste land in die wêreld.

“Dit het ’n ongekende vlak van patriotisme oor die kort termyn onder die meeste Amerikaners ontketen. Dit het egter ook tot ’n groot emosionele reaksie gelei wat terugskouend ’n oordrewe noodsaak vir drastiese stappe veroorsaak het. Die sogenaamde oorlog teen terreur, die sentralisering nasionale veiligheidsinstellings in die Departement van Binnelandse Veiligheid en die aanvaarding van die Patriot Act was van die gevolge. Die oorloë in Afganistan en Irak het ook uit dié reaksie voortgevloei. President George W. Bush en sy regering wou aan Amerikaners bewys dat hulle ferm, vinnig en daadkragtig op die aanvalle kon reageer. Vandag, 25 jaar later, is daar ’n breë gevoel dat die reaksie op die verkeerde bedreigings gefokus het.”

Kleynhans sê hoewel die dood van 3000 Amerikaners ’n reusetragedie was, het dit ook ’n debat oor die globale rol van die VSA en die land se posisie as belangrikste supermoondheid ontketen.

“Die aanval was gemik op die hart van die VSA se militêre (Pentagon) en ekonomiese (Wall Street) sentrums. Sedert September 2001 kon die VSA ’n herhaling van Islamitiese terreuraanvalle grootliks voorkom, maar dit het teen ’n reusekoste gebeur. Die omvang van die opgradering van veiligheidsmaatreëls by lughawens, die omvattende monitering van miljoene mense se oproepe, foonboodskappe en ander kommunikasie en optrede, en die algemene verlies aan privaatheid van miljoene Amerikaner, het ernstige vrae oor burgerlike vryhede laat ontstaan. Dit het ook tot ’n groterwordende kloof tussen Washington en gewone burgers gelei.”

Volgens Kleynhans het die mislukte oorloë in Irak en Afganistan Amerikaners negatief gestem teenoor Amerikaanse militêre operasies, nie net in die Midde-Ooste nie, maar regoor die wêreld.

“Die vraag waarop geen Amerikaanse administrasie tot nou ’n antwoord kon kry nie, is watter metodiek die beste sal slaag om Islamitiese terreur teen te werk. Ten spyte daarvan dat biljoene dollars oor 25 jaar aan die stryd teen terreur gespandeer is, is die situasie steeds kritiek. Vandag, 25 jaar ná die 11 September-aanvalle moet die VSA, steeds as globale supermoondheid, die stryd teen Islamitiese terreur herbedink. Massa-immigrasie skep in die VSA, maar ook ander Westerse lande ’n teelaarde vir terreur. Die Trump-administrasie se stryd teen massa-immigrasie en die beëindiging van miljoene se verblyfreg in die VSA, is ’n stap in die regte rigting. Dit kan egter nie die enigste oplossing wees nie. Die gesprek oor terreur, oor Amerikaanse nasionale veiligheid, die VSA se rol in die Midde-Ooste, anti-Westerse sentiment as katalisator vir terreur en hoe daar met lande in Afrika en die Midde-Ooste saamgewerk behoort te word om terreur teen te werk, is nog nie afgehandel nie. Die 25-jaar-herdenking is ’n gulde geleentheid vir besinning hieroor.”

’n Politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, Roland Henwood, sê dié aanvalle het ’n groot invloed gehad op die wyse waarop die Amerikaners politiek benader en hoe hulle oor die res van die wêreld dink.

“Dit is die eerste keer dat ’n aanval van buite die gebied van die VSA geloods is en dit is die eerste keer dat ’n aanval op Amerika plaasgevind het waar nie net Amerika se grondgebied nie, maar ook die Pentagon en die ekonomiese hart van Amerika geteiken is.”

Henwood sê die aanval het die geloof dat Amerika in ’n groot mate onaantasbaar is, vernietig. Hy sê verder dat die sogenaamde ewigdurende oorloë ook ’n gevolg van die aanval was. Henwood sê die “oorlog teen terreur” wat in die volgende jare sou volg, het die indruk by die VSA se vyande laat posvat dat die VSA ’n boelie is en sy eie wil afdwing ten koste van ander.

Henwood sê dit is moeilik om te bepaal wat die blywende gevolg van 9/11 is.

“Die kinders van diegene wat betrokke was, is nou jong volwassenes en dit is waarskynlik die geval, soos meestal met hierdie soort wêreldgebeure, dat dié wat direk geraak is ’n ander bewustheid het daarvan en anders op herinneringe reageer.”

Die meesterbrein

Die meesterbrein agter die aanvalle op die VSA op 11 September 2001 was ’n terroristeleier van Saoedi-Arabië en die stigter van die Islamitiese ekstremistiese groep Al-Qaeda, Osama Bin Laden.

Bin Laden is in 1957 in Riaad, Saoedi-Arabië, gebore as die seun van ’n welgestelde sakeman. Bin Laden het sy pa se konstruksieryk geërf en in die 1980’s na Afghanistan gegaan om teen die Sowjet-besetting te veg. Daar het hy ’n netwerk van Islamitiese vegters (moedjahedien) opgebou.

Bin Laden het ’n heilige oorlog teen die Weste verklaar en die VSA, Israel en sogenaamde afvallige Moslemstate as vyande beskou. Die aanvalle wat op 11 September 2001 onder sy leiding plaasgevind het, het die lewens van byna 3 000 mense geëis. Ná die aanvalle het Bin Laden oorwegend ondergronds geleef tot Amerikaanse magte hom in 2011 in Pakistan opgespoor en om die lewe gebring het.

 

Die slagoffers

Die oorgrote meerderheid van die slagoffers was gewone burgerlikes wat veral in die finansiële sektor werksaam was. Die slagoffers was ook nie net Amerikaners nie, maar mense van meer as 90 verskillende nasionaliteite. ’n Groot groep van diegene wat op die dag gesterf het, was reddingswerkers wat die slagoffers te hulp gesnel het. Dit sluit in 343 brandweermanne van die New York-brandweerdienste, 37 polisiebeamptes wat die Wêreldhandelsentrum bewaak het en 23 polisiebeamptes van die New York Polisiediens wat op die toneel aangekom het.

’n Verdere 246 van diegene wat hulle lewens op die dag verloor het, was passasiers en bemanningslede op die onderskeie vliegtuie. Die amptelike dodetal is 2 977. Dié getal sluit nie die aanvallers in nie.

 

Die samesweringsteorieë

Kort ná die gebeure op 11 September 2001 het verskeie samesweringsteorieë die lig gesien. Een van die teorieë is dat dit nie vliegtuie was wat die torings van die Wêreldhandelsentrum ineen laat stort het nie maar springstof wat vooraf op strategiese plekke geplaas is om ’n beheerde ontploffing moontlik te maak. Ondersteuners van die teorie haal graag ter ondersteuning van dié bewerings die spoed van die ineenstorting aan en die wyse waarop die geboue in hulle eie voetspoor geval het.

Nog ’n teorie is dat elemente binne die Amerikaanse regering (of intelligensiedienste) vooraf kennis gehad van die aanvalle, maar dit toegelaat of selfs gefasiliteer het. Die motief daarvoor sou wees dat die VSA ’n verskoning gefabriseer het om oorloë in Afghanistan en Irak te begin, wat die uitbreiding van militêre en intelligensiemagte sou benodig en die implementering van die Patriot Act sou moontlik maak.

Gewilde Nuus

Fotokrediet: Maroela Media

Twee vas na hulle glo groot hoeveelheid dwelms in Erasmia vervaardig

Fotokrediet: Maroela Media

Fondsinsameling vir Tommy Dell wat veg vir sy lewe

Fotokrediet: Netwerk 24

Suid-Afrikaanse huishoudings is onder druk

Fotokrediet - X

Solidariteit waarsku oor raswetgewing

Tebello Mosikili

G’n bykomende befondsing vir March and March-optogte, sê polisie

Ander Nuus Artikels

Telkom Towers
Privaatvennote gesoek om Telkom Towers-kompleks op te knap
Gevangenes
173 tronkbewaardes loop deur oor wangedrag ná Rooigrond-ontsnapping
Fotokrediet: Maroela Media
Twee vas na hulle glo groot hoeveelheid dwelms in Erasmia vervaardig
Fotokrediet: Maroela Media
Fondsinsameling vir Tommy Dell wat veg vir sy lewe
Fotokrediet: Netwerk 24
Suid-Afrikaanse huishoudings is onder druk

Luister nou