Minstens 173 beamptes van die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) word deur tugstappe in die gesig gestaar vir verskeie oortredings, met sommige wat daarvan aangekla word dat hulle misdadigers gehelp het om smokkelware in die korrektiewe sentrums in te bring.
Dit is vandag deur die nasionale kommissaris van die Departement van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, tydens ’n media-inligtingsessie by die Kgosi Mampuru II-korrektiewe sentrum in Pretoria onthul.
Die inligtingsessie het gefokus op die onlangse ontsnapping van Edward Khomotso Madiba uit die Rooigrond-maksimumsekuriteitsgevangenis naby Mahikeng verlede Sondag.
Madiba is in ’n enkelsel aangehou en was besig om ’n 20 jaar vonnis uit te dien vir roof, die besit van ’n vuurwapen en ammunisie, ontvoering en die skending van paroolvoorwaardes. Volgens ’n voorlopige ondersoek het hy die diefwering van sy tronksel oopgesny.
Dit was volgens berigte sy tweede ontsnapping uit dié gevangenis. Agt tronkbeamptes het kennisgewings ontvang van moontlike skorsing, hangend die uitkoms van die ondersoek na die ontsnapping.
Madiba weer aangekeer
Madiba is gister by ’n restaurant in Brits weer in hegtenis geneem nadat die polisie, die departement van korrektiewe dienste en lede van die plaaslike boeregemeenskap kragte saamgesnoer het om hom op te spoor.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, Adèle Myburgh, sê dat Madiba word nou ook deur ’n verdere aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding in die gesig gestaar word.
Veiligheidsmaatreëls onder die loep
Makgothi Samuel Thobakgale, nasionale kommissaris van die DKD, het vroeër vandeesweek die gevangenis besoek om te sien wat moontlik tot die ontsnapping gelei het.
Tydens ’n onlangse oorsigbesoek deur die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste, is ernstige griewe rakende ernstige watertekorte en pyplyne geopper en frustrasie wat heers oor die stadige reaksie van die departement van openbare werke om die foute reg te stel.
Die polisievakbond Popcru sê die DKD moet vasstel of die veiligheidsmaatreëls by die Rooigrond-gevangenis nog voldoende is.