Dit is tans nog geen uitgemaakte saak dat die DA in Tshwane, Johannesburg en Kaapstad sal regeer nie.
“Hoewel meningspeilings positief wys op steun vir die DA en selfs die VF+, sal die volgende maande bepalend wees,” verduidelik prof André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.
Die Social Research Foundation se jongste peiling wys dat die DA landwyd 30% steun het, terwyl die ANC se steun tot 37% gedaal het. Luidens die peiling het die DA 42% steun in Johannesburg en 43% in Tshwane.
Tog sê Duvenhage die DA moet nie te vroeg ’n oorwinning in Tshwane of Johannesburg vier nie.
Hy benadruk dat koalisieregerings in al die metro’s in die land sal seëvier.
“Die werklikheid van koalisiepolitiek in die meerderheid van plaaslike regerings landwyd en in die besonder in al die metropole is ’n uitgemaakte saak. Die vraag is wie die vermoë het om ’n meerderheidskoalisie saam te stel.”
Volgens Duvenage het die linkergroepering, wat die uMkhonto weSizwe-party (MK), EFF en die Suid-Afrika Kommuniste Party (SAKP) insluit, waarskynlik ’n beter kans om 50% plus 1% te kry as ’n kombinasie van slegs die DA en die VF+ in Tshwane.
Duvenhage verduidelik dat dit nie ’n oortuigende oorwinning vir die sogenaamde linkses sal wees nie. Dit sal volgens hom 50/50 of 45/55 wees.
Cilliers Brink verteenwoordig die DA in Tshwane as burgemeesterskandidaat en Willie Spies die VF+.
Brink sê sy party maak nie nou al koalisiepraatjies nie en is optimisties oor die DA se steun in Pretoria.
“Peilings lyk goed, maar die stryd is nog nie gewen nie. Ons het ’n tak in elk van die 107 wyke, maar ons is nie selftevrede nie. Ons moet eers die ANC en sy meeloperpartye uitoorlê. Ons kan nie koalisiekuikens begin tel voordat verkiesingseiers uitgebroei het nie.”
Spies sê die VF+ sal beslis die hoofstad saam met die DA regeer.
“Ons het dit reeds gedoen en is daartoe verbind om dit weer te doen. Koalisies word tussen partye gesluit en nie tussen individue nie. Die VF+/DA-koalisie wat ná 4 November in Pretoria gaan regeer, gaan die beste wees wat die hoofstad in 26 jaar gesien het. Ons sal daarvoor sorg.”
Duvenhage sê daar is een groot wetmatigheid wat mens nooit moet vergeet met verkiesings nie.
“Ons stem demografies. Ons stem ingevolge ras- en kultuursensusse. Die DA se vermoë om daardie patroon te breek, is net nie sterk genoeg nie.”
Daarom meen hy dat Helen Zille ook nie outomaties die Goudstad sal regeer nie.
“Demografie is aan ander partye se kant. Wat aan die DA se kant is, is die groot ontevredenheid van swart kiesers. Die feit dat hulle toenemend verdeel word en die moontlikheid dat daar ’n lae stemopkoms gaan wees, kan in die DA se guns werk.”
Wat volgens Duvenhage in Zille se guns tel, is haar X-faktor en groot ervaring met koalisiepolitiek.
In Kaapstad is die PA die grootste uitdaging vir die DA sê Duvenhage.
“Die ANC gaan ’n faktor wees (in die Kaap), maar hy is al vir ’n geruime tyd gereduseer tot ’n kleiner party. Die DA behoort hulle leierskapsposisie te behou in Kaapstad met die steun van kleiner partye.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-80-21-Aug-2026-1.pdf