Die Misdaadintelligensiehoof, Dumisani Khumalo het vandag voor die Madlanga-kommissie van Ondersoek getuig om sy weergawe oor die bewerings dat die polisie en regbank deur vermeende dwelmbase in Gauteng beheer word, te verskaf.
Khumalo het onder meer die welslae van die Politieke Moorde-taakspan uitgelig en getuig dat bedrog en korrupsie die hoofmotiewe van die politieke kontrakmoorde was wat deur die taakspan ondersoek is.
Sy getuienis sal na verwagting oor ’n paar dae strek.
Khumalo is tans op borgtog nadat hy van bedrog en korrupsie aangekla is.
Dié aanklagte hou verband met die onreëlmatige aanstelling van ’n ongekwalifiseerde beampte in ’n senior pos.
Daar is ook gerugte dat die Madlanga-kommissie se hoofgetuienisaanvoerder, Terry Motau, besluit het om uit die kommissie te bedank.
Die kommissie sê egter hy sal nie deur bewerings van onenigheid in sy geledere ontspoor word nie.
Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels sê die kommissie is steeds daartoe verbind om die ernstige bewerings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, te ondersoek.
Mkhwanazi glo dat Khumalo se inhegtenisneming deel van ’n poging was om ondersoeke na ’n Gautengse misdaadnetwerk te pootjie om lede van die strafregstelsel te beskerm.
Fotokrediet: Sphamandla Dlamini – EWN