Luister nou

Iran wil Trump in die middeltermyn aanvat

Deur Redaksie

Dit sal binnekort ses maande wees sedert die Verenigde State van Amerika (VSA) saam met Israel ʼn grootskaalse militêre operasie in Iran van stapel gestuur het. Terwyl ses maande veel langer is as waarvoor die Amerikaanse regering, en spesifiek president Donald Trump, gehoop het, is die belangriker datum nou 3 November.

Oor net meer as 11 weke sal Amerikaanse kiesers na die stembus gaan om 35 senatore, 39 goewerneurs en al 435 lede van die Huis van Verteenwoordigers te verkies. Regoor die VSA sal beheer oor deelstaatwetgewers en duisende ander poste, soos regters, polisiehoofde, skoolbeheerliggame en distriksbestuur, verkies word. Iran is oortuig daarvan dat sy beste strategie teen die VSA nou een is wat politieke pyn vir Trump en die Republikeine in die verkiesing veroorsaak.

Die Parys-vredesooreenkoms wat in Januarie 1973 deur Noord-Viëtnam onderteken is, het grootliks bevestig dat die Amerikaners ʼn militêre oorwinning in die Viëtnam-oorlog behaal het. Die politieke prys van die oorlog was egter reusagtig. Eers het dit ʼn einde aan Lyndon B. Johnson se presidentskap in 1968 gebring en daarna het dit vir die Demokrate talle nederlae, onder andere in die presidensiële verkiesings van 1968 en 1972, meegebring.

Die uiteinde was ʼn breuk tussen die Withuis en die Kongres. Slegs enkele maande ná die Parys-ooreenkoms, waarin Noord-Viëtnam talle toegewings moes maak, het die Kongres die Case-Church-wysigings tot sewe begrotingswetsontwerpe goedgekeur. Die belangrikste hiervan was dat die Kongres eksplisiet enige verdere Amerikaanse militêre betrokkenheid in Viëtnam, Laos en Kambodja verbied het. Alle finansiële en militêre steun aan Suid-Viëtnam is hierdeur gestaak en twee jaar later sou Suid-Viëtnam voor die kommuniste van Noord-Viëtnam moes swig. Hulle wapens het bloot opgeraak. Die Amerikaanse Kongres het die knie voor openbare mening gebuig – reg of verkeerd en daarmee ‘n oorwinning in ‘n nederlaag omskep.

Die les uit die Viëtnam-oorlog is dat openbare sentiment in die VSA uiteindelik tot politieke gevolge lei. Dit lei weer tot ʼn herskikking van beleid ten einde politieke sukses te behaal. Die verkiesingsiklusse in die VSA volg mekaar direk op en is ʼn nimmereindigende proses. Toe die Demokrate beheer oor die Kongres wou behou, het hulle vinnig in die middeltermynverkiesing van 1970 en die algemene verkiesing van 1972 teen die Viëtnam-oorlog gedraai. ʼn Grootliks militêre oorwinning is binne twee jaar in ʼn reusenederlaag omskep.

Byna ses maande ná die begin van die Iran-oorlog hoor ons redelik min oor wat in Iran gebeur. Amerikaners, maar ook mense regoor die wêreld, het belangstelling verloor. Iran is deur die Amerikaners en Israel dramaties verswak. Die land het byna geen militêre vermoë meer oor om ʼn ernstige oorlog te voer nie. Sy militêr-industriële kernkompleks is geneutraliseer. Sy vloot is gesink, met net die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps wat nog ʼn paar klein bote oor het.

Iran se ekonomie ervaar sy grootste krisis in dekades weens die Amerikaanse blokkade van sy hawens, skade wat deur die oorlog aangerig is en sanksies. Inflasie het in Julie tot 87% gestyg, wat die hoogste in 80 jaar is. Voedselpryse is tans tussen 112% en 134% duurder as ʼn jaar gelede. Die IMF voorspel ʼn BBP-inkrimping van 5,4% tot 6,1%, en Iran se geldeenheid, die rial, het tot ʼn rekordlaagtepunt van 1,9 miljoen rial per dollar gedaal. Miljoene Iraniërs het die afgelope vyf maande hul werk verloor. Die land se ekonomie staan op die rand van ʼn totale ineenstorting.

Tog sien talle leiers in Teheran ʼn reuse-geleentheid namate die Amerikaanse middeltermynverkiesing nader kom. Amerikaanse verbruikers is deur die bank ongelukkig oor hoë brandstofpryse. Ten spyte daarvan dat ʼn daling in die Amerikaanse inflasiekoers die afgelope week aangekondig is, verkeer ʼn meerderheid van Amerikaners onder die indruk dat hulle lewenskoste steeds vinniger as hul inkomste styg, en hulle blameer die Iran-oorlog en dus Trump en die Republikeine daarvoor.

In Teheran is die denke eenvoudig: frustreer die onderhandelingsproses. Die plan is: Onderhandel, onderhandel, onderhandel en ontwrig dan die onderhandelingsproses met nuwe eise of ʼn aanval op skepe in die Seestraat van Hormoes. Keer terug na onderhandelinge, stel nuwe eise en ontwrig weer die proses. Laat die koste vir Trump en die Republikeine duurder en duurder raak, totdat een van twee dinge gebeur: groter Amerikaanse toegewings om bloot ʼn einde aan die konflik te maak en die seestraat oop te stel, of totdat ʼn nuwe Kongres in November verkies word wat vinnig sal optree met ʼn mandaat om Amerikaanse betrokkenheid in die Midde-Ooste dramaties af te skaal. Linkse Demokrate in Washington staan gereed om dit te doen.

So terwyl Iran, soos Noord-Viëtnam, die militêre stryd verloor het, sien Teheran ʼn geleentheid vir ʼn politieke oorwinning in die VSA wat tot ʼn uiteindelike Amerikaanse onttrekking kan lei. Die vraag is of Trump dit gaan toelaat. Die Amerikaanse minister van finansies, Scott Bessent het tereg verlede naweek aangevoer dat Iran sy hefboom oor olie- en gasuitvoere uit die Golfstreek gaan verloor namate die meeste lande alternatiewe uitvoerkanale om die Seestraat van Hormoes vind. Dit gaan egter twee jaar neem. Intussen het Saoedi-Arabië, Turkye en Pakistan, die drie voorste Soennitiese Arabiese lande, ʼn militêre samewerkingsooreenkoms gesluit wat indirek daarop gemik is om Iran se invloed in die Midde-Ooste finaal te help kelder. Ook dit gaan egter tyd neem om resultate te toon.

Terwyl Iraniërs ʼn bitter ekonomiese en humanitêre prys vir ʼn uitgerekte oorlog betaal, is die gehardste ideoloë in Teheran gemaklik daarmee om die stryd langer uit te rek met die hoop dat die Amerikaners onder die druk van hoë oliepryse en ʼn ongewilde oorlog gaan swig. Ons sal oor die volgende 80 dae sien wie se geduld die beste is. Vir nou sê president Trump dat hy gereed is om nog veel groter ekonomiese druk op Iran uit te oefen. Daarmee saam sal oliepryse ongelukkig hoog bly en sal die Republikeine waarskynlik op 3 November beheer oor albei huise van die Kongres verloor. Amerikaners gee bloot meer om oor die prys van ‘n Big Mac as oor militêre sukses in die Midde-Ooste.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-79-14-Aug-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Kragdag 2

Selfstandigheidsgids wil gesinne help om die eerste stap na groter selfstandigheid te neem

Lady Grey

VF Plus: Naamsveranderinge in Oos-Kaap is onnodig, verdelend en polities gemotiveerd

ChatGPT Image Aug 14, 2026, 08_46_41 AM

Brand by Bloedrivier bring gemeenskap byeen

Kleinfontein

Kleinfontein verwelkom skikking

Untitled design (28)

Nog winterkoue is moontlik, maar die lente is op pad

Ander Nuus Artikels

Placeholder_400x230
Wag-’n-bietjie-bos
Bakkiefees
SA Bakkie en SNV Fees gaan weer brul
Kragdag 2
Selfstandigheidsgids wil gesinne help om die eerste stap na groter selfstandigheid te neem
Lady Grey
VF Plus: Naamsveranderinge in Oos-Kaap is onnodig, verdelend en polities gemotiveerd
ChatGPT Image Aug 14, 2026, 08_46_41 AM
Brand by Bloedrivier bring gemeenskap byeen

Luister nou