Die VF Plus sê hulle is sterk gekant teen die voorgestelde naamsveranderinge van dorpe en geografiese plekke in die Oos-Kaap. Die party se leier in die Oos-Kaap, Piet Mey, sê die jongste dokument van die Oos-Kaapse Geografiese Naamkomitee bevestig dat die komitee voortgaan met ’n proses om onder meer Lady Grey na Inkosi Makhobeni, Sterkspruit na Inkosi Mpangazi, Herschel na Inkosi Lihlongo en Sterkspruit na Mapetla Mohapi te verander.
Volgens Mey verwerp die VF Plus enige onnodige, duur en polities gedrewe naamsveranderinge wat gemeenskappe verdeel, belastingbetalers se geld mors en bestaande geskiedenis en identiteit probeer uitwis.
“Staatskapasiteit en openbare fondse moet eerder aangewend word om dringende diensleweringsprobleme, infrastruktuur, werkloosheid en armoede op te los.”
Mey sê ’n pleknaam is meer as net ’n bord langs die pad.
“Dit is deel van ’n gemeenskap se geskiedenis, erfenis en identiteit. Waar daar sterk plaaslike teenkanting bestaan, kan ’n regering nie bloot voortgaan asof daardie inwoners se stemme van geen betekenis is nie.”
Volgens Mey wek die tydsberekening en hantering van hierdie prosesse ernstige kommer.
“Pogings om bestaande dorpsname kort voor ’n verkiesing te verander, skep die indruk dat politieke belange en stemwerwing ’n groter rol speel as dienslewering. Inwoners word telkens versoek om openbare prosesse by te woon en insette te lewer, maar wanneer gemeenskappe hulle teen verandering uitspreek, voel hulle dat daar nie werklik na hulle geluister word nie. Dit is onaanvaarbaar.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-79-14-Aug-2026-1.pdf