Luister nou

Selfstandigheidsgids wil gesinne help om die eerste stap na groter selfstandigheid te neem

Deur Redaksie

KragDag en Lex Libertas het die afgelope week ’n Selfstandigheidsgids bekendgestel wat ten doel het om gesinne, boere en entrepreneurs te help om hul eie pad na groter selfstandigheid te vind. Die gids is saamgestel as ’n langtermynhulpmiddel wat lesers help om hul huidige situasie te beoordeel, moontlike oplossings te verken en ’n persoonlike plan vir die toekoms saam te stel.

Die bekendstelling spruit uit drie dae se gesprekke in die KragDag Kopskuifateljee waar onderwerpe soos verantwoordelike rentmeesterskap, vryheid en identiteit, veiligheid, opvoeding en belasting bespreek is. Die Selfstandigheidsgids bring baie van hierdie beginsels byeen in ’n praktiese werkboek wat lesers help om die volgende stap na groter selfstandigheid te neem.

Die 21-bladsygids is op KragDag se 2026-tema “Druppels word strome. Strome word riviere.” geskoei en sluit praktiese afdelings oor opvoeding en vaardighede, energie, water, voedsel, behuising en selfdoenprojekte in. Elke hoofstuk bevat selftoetse, kontrolelyste, werkblaaie, wenke en vrae wat lesers kan gebruik om oplossings te vergelyk en ingeligte besluite te neem. Die gids sluit ook af met ’n persoonlike selfstandigheidsplan wat lesers help om konkrete doelwitte vir die volgende twaalf maande te formuleer.

Volgens dr. Ernst Roets, uitvoerende hoof van Lex Libertas, is die gids nie bedoel om voorskriftelik te wees nie, maar om mense te help om verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te neem.

“Lex Libertas se hoofdoelwit is om ’n lewensvatbare politieke bedeling vir die gemeenskappe van Suid-Afrika te bevorder. Die belangrikste stap om dit te bereik, is nie een of ander vorm van parlementêre ingryping nie, maar dat gesinne en gemeenskappe eienaarskap moet neem van hul eie vryheid sodat hulle selfstandig kan funksioneer. Ons moet die politieke lugleegte in Suid-Afrika vul deur self verantwoordelikheid te aanvaar. Dit is waarom hierdie gids so belangrik is. Dit help mense om, daar waar hulle woon, die spreekwoordelike stene te lê.”

HP Steyn, bestuurshoof van KragDag, sê die gids is ’n natuurlike uitbreiding van dit waarvoor KragDag al bykans twee dekades staan.

“KragDag was nog altyd meer as ’n ekspo. Dit is ’n plek waar mense idees ontdek, vrae vra en praktiese oplossings vind. Die Selfstandigheidsgids neem daardie gesprek verder. Ons hoop dit word ’n werkboek waarna gesinne telkens terugkeer wanneer hulle hul volgende stap beplan. Selfstandigheid word nie deur een groot besluit gebou nie, maar deur baie klein besluite wat oor tyd momentum kry.”

Vanjaar se KragDag, wat vir die 17de keer plaasgevind het, het ongeveer 34 000 besoekers gelok.

Die gids kan hier afgelaai word: https://kragdag.co.za/dokumente/KragDag%20Selfstandigheidsgids.pdf

Ernst Roets, Steve Hofmeyr en Johan Vorster op die verhoog. (Foto: Verskaf)

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-79-14-Aug-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Kragdag 2

Selfstandigheidsgids wil gesinne help om die eerste stap na groter selfstandigheid te neem

Lady Grey

VF Plus: Naamsveranderinge in Oos-Kaap is onnodig, verdelend en polities gemotiveerd

ChatGPT Image Aug 14, 2026, 08_46_41 AM

Brand by Bloedrivier bring gemeenskap byeen

Kleinfontein

Kleinfontein verwelkom skikking

Untitled design (28)

Nog winterkoue is moontlik, maar die lente is op pad

Ander Nuus Artikels

Placeholder_400x230
Wag-’n-bietjie-bos
Internasionale Perspektief nuut
Iran wil Trump in die middeltermyn aanvat
Bakkiefees
SA Bakkie en SNV Fees gaan weer brul
Lady Grey
VF Plus: Naamsveranderinge in Oos-Kaap is onnodig, verdelend en polities gemotiveerd
ChatGPT Image Aug 14, 2026, 08_46_41 AM
Brand by Bloedrivier bring gemeenskap byeen

Luister nou