’n Vermoedelik kwaadwillige brand by die Bloedrivier-erfenisterrein in KwaZulu-Natal het aansienlike skade aan die terrein se infrastruktuur veroorsaak.
’n Groot gedeelte van die kampeerterrein het afgebrand. Kragpunte en ander elektriese infrastruktuur is beskadig of vernietig, boorgatpompe het uitgebrand en die donkies se blyplek is beskadig.
Die brand, wat vroeg Maandagoggend ontstaan het, het die veiligheid van die terrein se bestuursegpaar, hul kinders en hul huis regstreeks bedreig.
Judean Janse van Vuuren, finansiële bestuurder by die Bloedrivier-erfenisterrein, het wakker geword toe sy ’n rooi gloed en vlamme buite haar kamervenster gesien het. Die vlamme was volgens haar bykans dakhoogte en sy kon skaars deur die digte rook sien.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, was saam met sy seuns, Niël en Daniël , en ’n vriend op die terrein. Hulle het saam met die Janse van Vuurens gehelp om die brand te bestry. Binne ure is die brand onder bedwang gebring.
Nadat die brand geblus is, is olie op verskeie plekke rondom die erf en by die kampeerterrein aangetref. ’n Strafregtelike klag is daarom by die Kingsley-polisiekantoor ingedien.
“Die proses moet nou sy gang gaan. Ons is regtig baie dankbaar oor die welwillendheid en die gemeenskap se samewerking,” sê Langner.
Langner sê die veiligheid van hul personeel, hul gesinne en besoekers kan nie aan toeval oorgelaat word nie.
“Ons gaan nie ná hierdie voorval terugstaan nie. Ons gaan die terrein herstel, veiligheidsmaatreëls versterk en voortgaan om Bloedrivier se erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar.”
Veiligheidmaatreëls sluit in verbeterde beligting rondom die terrein en bykomende brandblustoerusting. Die kamerastelsels daar moet ook verbeter word en veiligheid rondom die museum moet versterk word. Die terrein se diere benodig tans ook dringend kos en verdere versorging.
Die Bloedrivier-erfenisterrein bied ’n R20 000-beloning aan vir inligting wat kan lei tot die identifisering, inhegtenisneming en skuldigbevinding van die persoon of persone wat vir die brand verantwoordelik is.
Enigiemand met inligting word versoek om dit aan die polisie of Bloedrivier se bestuur beskikbaar te stel.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-79-14-Aug-2026-1.pdf