Esmarie Yssel
Hoop is aan die oorstroom nadat ’n skaaphond van Vredendal in die Matzikama-distrik van die Wes-Kaap tydens die verwoestende vloede uit ’n wingerd gered is.
’n Plaaslike fotograaf, Danny Kotze, het River – wat toe nog naamloos was – se storie van dapperheid en sy redding deur ’n sakeman, Chris Barnard, op kamera vasgelê.
“Ek neem elke jaar foto’s as die rivier afkom, maar soos hy hierdie jaar afgekom het, het ek nog nooit gesien nie. Ek het die oggend besluit toe die brug vir voetgangers oopgestel is dat ek aan die ander kant van die rivier moet kom, dat ek ook dáár kan gaan foto’s neem. Net voordat ek op die brug kom, kom hier ’n man van agter af wat vir my vertel van ’n hond wat hier in die water is. Toe ek by die rivier kom, wys hulle vir my die hond. Ek neem toe ’n foto, vra of iemand dit al aangemeld het, wat toe nie die geval was nie, en ek bel toe die polisie om hulp te ontbied. Ek stap toe oor die brug en met die terugkomslag staan ’n man – Chris Barnard – en Anja Visser van die dierewelsynsorganisasie Angel Project daar. Chris het sy klere net daar afgestroop, die water trotseer en die hond uit die rivier gaan red. Ek het met sy toestemming foto’s van die gebeure geneem,” vertel Kotze.
Die nat en bedremmelde vierpotige is River gedoop, en sy storie het nie net harte aangegryp nie, maar ook hernude geloof in die goedheid van die mensdom regoor die land laat ontspring.
Angel Project se stigter, Janine Storman-Van Zyl, het bevestig dat River ten tyde van sy veeartsondersoek by die Vredendal-dierehospitaal met ’n oordraagbare veneriese of TVT-kankergewas gediagnoseer is, maar hy is besig met ’n chemobehandelings en sy storie gaan nie hier eindig nie.
Storman-Van Zyl sê River het ’n tweede kans gekry en dis asof hy dit aangryp.
“Dit gaan baie goed met hom. Hy wíl leef. Hierdie seun was nat en koud en was nie in ’n goeie kondisie toe hy uit die rivier gered is nie. Ons vermoed dat hy uit ’n huis kom waar hy nie goed versorg is nie. Nadat hy egter by die veearts gebad en geborsel is, kon ons nie glo wat ’n pragtige hond hy is nie. En toe begin sy verstommende persoonlikheid deurskemer,” het Storman-Van Zyl aan Nuusweek gesê.
“Dis asof hy weet dat hy gered is en hy weet wie hom gered het. Wanneer Chris hom gaan besoek, is hy uit sy vel van opgewondenheid.”
Sy sê sy storie se rimpeleffek het boonop gehelp om die uitdagings waarmee hulle elke dag te kampe het te belig, naamlik armoede en te veel straat- en verwaarloosde honde.
“Ons is ongeveer 300 km noord van Kaapstad geleë, en Matzikama beslaan 12 600 vierkante kilometer. Daar is slegs twee privaat veeartse hier in Vredendal. Daar is geen Dierebeskermingsvereniging nie en geen organisasie wat kan help nie. Toe ek vier jaar gelede hierheen verhuis het, het ek uitgevind dat daar geen sterilisasieprogram bestaan nie, en daarsonder kan jy nie die probleem van duisende ongewenste hondjies in behoeftige gemeenskappe aanpak nie,” sê Storman-Van Zyl.
Angel Project bedryf verskeie uitreikprogramme waartydens fondse ingevorder word om minstens 600 honde per jaar te steriliseer, te ontwurm en vir vlooie en bosluise te behandel. En dis hul dagtaak om mishandelde en verwaarloosde honde in 13 subdistrikte – van Rietpoot tot Klawer – te red.
“Ons gaan haal nie net ’n hond uit die gemeenskap en steriliseer hom om hom net weer terug te plaas en nooit weer te sien nie. Ons het opvolgprogramme. Elke hond word onder die Angel-vlerke ingeneem, en ons sorg voortdurend vir daardie hond. Ons maak ook seker hulle kry komberse en hondehokke wat deur die Purple Kennel-projek geborg word.”
Vir Storman-Van Zyl is engelwees ’n roeping.
“Sommige gevalle breek ’n mens, maar ek probeer fokus op die verskil wat ons maak. Party dae spring ek in my motor vir een hond in nood, maar vir daardie een hond verander ons sy lewe op daardie dag vir altyd. Daardie honde wat ek nie kon red nie, breek my hart, maar ek moet gefokus bly op die honde wat wag om gered te word en wag op ’n tweede kans.”
Te danke aan River se redding en sy storie wat voortvloei sal dié organisasie sy werksaamhede kan voortsit.
Angel Project sal vir River ’n hartshuis begin soek sodra sy chemobehandeling afgehandel is.
Storman-Van Zyl sê dis verbysterend om te sien hoeveel mense van regoor Suid-Afrika hom wil aanneem.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek- https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-69-05-11-Jun-2026-1.pdf