Die familie van Matt Stern (gebore Smit) het aan Pretoria FM bevestig dat die geliefde akteur en sanger vroeër vandag oorlede is, nadat sy hart ingegee het.
Die 54-jarige Stern is met ’n lekkende hartklep gebore en moes later in sy lewe ’n hartklep-operasie ondergaan. Hy was in sy finale dae gehospitaliseer weens komplikasies, waarna sy toestand onverwags verswak het.
Stern laat ’n indrukwekkende en veelsydige loopbaan agter wat oor meer as drie dekades in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf strek. Hy het besondere gewildheid verwerf vir sy vertolking van Pastoor (Dominee) Dou Droel in die kykNET-komedie, Huis Lelieveld, en word verder wyd onthou vir sy rol as Kurt Conradie in die sepie, 7de Laan.
Benewens sy televisieprestasies het Stern as verhoogkunstenaar uitgeblink in produksies soos Les Misérables, Into the Woods, Grease en The Rocky Horror Show. Sy filmwerk sluit rolle in beide plaaslike en internasionale produksies in, onder meer District 9 en Invictus.
As sanger het hy Suid-Afrika in 2000 by die Wêreldkampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste in Hollywood verteenwoordig, waar hy vyf goue medaljes, een silwer medalje en die titel van wêreldkampioen in sy kategorie verower het. In 2023 is hy verder vereer met ’n Afri-Indie-musiektoekenning in die kategorie Beste klassieke enkelsnit (manlik).
Stern sal onthou word vir sy talent, sy professionaliteit en sy warmte as mens en kunstenaar.
Hy laat sy dogter, broers en skoonsus agter. Die familie vra vir privaatheid in hierdie tyd van rou.