Die organisasie, Kaapse Forum sê hy verwelkom die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Noord-Kaap se aankondiging dat hy sy besluit, om verklarings slegs in Engels af te neem, teruggetrek het.
Die hoof van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, Bernard Pieters sê die aanvanklike besluit was in die eerste plek teenstrydig met artikel 6(3)(1) van die Grondwet, wat bepaal dat provinsiale regerings ’n minimum van twee amptelike tale moet gebruik.
Pieters sê dit is verblydend dat goeie oordeel geseëvier het en dat hierdie besluit herroep is. Hy sê dit sou ‘n negatiewe impak op gemeenskapsvlak gehad het.
Volgens hom is Engels waarskynlik ook nie die polisiebeamptes se eerste taal nie, wat beteken dat foute maklik kan inglip.
AfriForum se hoof van kultuursake, Alana Bailey het die feit dat die besluit so gou omgekeer is, verwelkom.