12 Februarie 2025
Die DA eis ook nou geregtigheid nadat die vrylopende bobbejaan, Raygun, sowat ‘n week gelede deur ‘n groep skoolkinders van Delmas wreed dood gemaak is.

Die party se woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling in Mpumalanga, Annerie Weber sê hulle verwelkom die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se aankondiging dat hulle die voorval gaan ondersoek.
Die bobbejaan het vinnig bekendheid verwerf in Pretoria, vanweë sy wandeling, en na sy dood is ‘n petisie teen dieremishandeling begin.
LEES OOK: Petisie teen dieremishandeling begin ná “bekende” bobbejaan se wrede einde
Hy was volgens The Owl Rescue Centre op pad terug na die natuur toe hy by die Botleng Secondary School in Delmas opgeëindig het waar hy deur skoolkinders geskop, geslaan en met klippe gegooi is, waarna hy aan die brand gesteek is.
Weber sê ondanks die wet wat dieremishandeling onwettig maak, is daar ook die Wet op Natuurbewaring van 1974 wat dit onwettig maak om bobbejane in Suid-Afrika dood te maak. Sy sê die DA doen ook ‘n beroep op die Mpumalanga-onderwysdepartement- en die Toerisme en Parke-agentskap om kennis te neem van die voorval, en meen hulle moet toesien dat kinders die nodige opleiding kry oor die belangrikheid van diere.