Die DA in Gauteng het sewe strafregtelike klagtes teen die voormalige finansiële hoof van dié provinsie se gesondheidsdepartement, Lerato, Madyo, gelê.
Madyo word daarvan beskuldig dat sy versuim het om op die waarskuwings van die vermoorde fluitjieblaser, Babita Deokaran te reageer oor moontlike bedrog by die Tembisa-hospitaal.
Deokaran het Madyo glo kort voor haar dood gewaarsku dat hulle lewens in gevaar kon wees nadat sy verdagte betalings van meer as R100 miljoen uitgelig het. Hoewel die betalings aanvanklik bevries is, is dit later weer goedgekeur.
Die DA sê Madyo het verskeie wette oortree, insluitend die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupsie en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Sy word ook verbind met moontlike sameswering en nalatigheid.
Volgens die DA moet die polisie dringend ondersoek instel, sodat almal wat by die diefstal van meer as R2 miljard betrokke was, vervolg word — insluitend dié agter Deokaran se moord.