’n Toenemende groep buitelandse burgers wag buite die departement van binnelandse sake se vlugtelinge-ontvangsentrum in Durban te midde van toenemende spanning oor onwettige immigrasie en dreigende betogings.
Sommige migrante sê hulle is wettig in die land, maar bly op die sypaadjie uit vrees vir geweld ná ’n reeks voorvalle wat met vreemdelinge-haat verband hou, in die stad.
Die spanning volg op oproepe deur teen-immigrasie groepe om buitelanders teen 30 Junie die land te verlaat, terwyl kenners en burgerlike organisasies waarsku dat die situasie kan vererger indien dit nie dringend bespreek word nie.
Die Ghana-ambassade in Pretoria het ook gister ’n toeloop van Ghanese burgers beleef wat vra dat hulle gerepatrieer word, te midde van toenemende spanning oor onwettige immigrasie in Suid-Afrika.
Volgens owerhede word nagenoeg 300 mense tans verwerk, met ’n verdere 800 Ghanese wat na verwagting Woensdag na hul land teruggestuur sal word.
Die leier van Bosa, Mmusi Maimane, sal intussen vandag op Afrikadag ’n openbare toespraak in Johannesburg lewer oor stygende vreemdelingehaat en Suid-Afrika se immigrasiebeleid.
Maimane sal sy visie uiteensit vir ’n wettige, regverdige en menswaardige immigrasiestelsel wat volgens hom Suid-Afrikaners beskerm, die oppergesag van die reg handhaaf en immigrasie beter bestuur.
Die ministers in die justisie, misdaadvoorkoming en sekuriteitskluster, vergader ook vandag by die Uniegebou in Pretoria om die toename in betogings oor immigrasie en onwettige buitelanders in die land te bespreek.