Daar het ernstige kommer ontstaan oor die veiligheid van getuies by die Madlanga-kommissie van Ondersoek nadat die name van twee beskermde getuies per ongeluk tydens vandeesweek se verrigtinge genoem is.
Die kommissie is in die spervuur nadat die onthulling verskeie lewens in gevaar kan stel.
Die teenmisdaadkampvegter en fluitjieblaser Roegshanda Pascoe het die blootstelling as die “ergste ding wat met getuies kan gebeur” bestempel.
Pascoe het verskeie bendemoorde in Manenberg aanskou en het self ’n teiken geword omdat sy dit gewaag het om dit aan te meld.
Sy is uiteindelik in getuiebeskerming geplaas, maar het Suid-Afrika verlaat omdat sy gevoel het dat die stelsel nie daarin geslaag het om haar en haar familie na behore te beskerm nie.
Sy sê die Suid-Afrikaanse getuiebeskermingstelsel het nie genoeg hulpbronne nie en is kwesbaar wat getuies dikwels noop om hulself te beskerm en op beperkte staatsveiligheidsondersteuning staat te maak.
Pascoe meen die staat het nie die geld om werklik die veiligheid van getuies te verseker nie en sê die uitlek van beskermde identiteite het verwoestende gevolge vir getuies en hulle families en skend op die ou end die vertroue in die regstelsel.