Redaksie
Vir die meeste van ons kan die kantoorlewe erg middelmatig wees. ’n Spasie waar daar soms min tot geen opwinding is nie en waar spertye jou daaglikse realiteit is.
Dit is egter nie die geval as jy by Deluxe Processed Meats, ’n verspreider van polonie, werk nie. Hier beskou die baas hom as “die Rassie van polonies”. Daar is ’n bekkige pierewaaier en ’n vurige romanse wat op kantoor posvat.
Dit klink dalk vir jou soos ’n sepie, en jy is nie heeltemal verkeerd nie. Dít is in ’n neutedop waaroor Suid-Afrika se eie weergawe van die immer gewilde Mokumentêre-reeks The Office handel.
Die Kantoor, soos sy Britse en Amerikaanse boeties, handel eerder oor die drama en wisselwerking tussen die personeel as die dag-tot-dag werk wat hulle moet verrig.
“Dit was vir ons belangrik om die reeks so eg Suid-Afrikaans as moontlik te maak. Dit is nie net ’n namaaksel van die Britse of Amerikaanse reekse nie, maar uniek aan ons land en sy mense,” sê die hoofskrywer en regisseur, Bennie Fourie.
Eers was daar die Britse The Office met Ricky Gervais en kort daarna het die Amerikaanse weergawe met Steve Carell in die hoofrol gevolg en die reeks het gou ’n kultusgunsteling geword. Sedertdien het die reeks mense wêreldwyd met 14 weergawes in verskillende tale laat skaterlag en nou is Afrikaans die 15de weergawe van dié komedie-reeks.
Bennie vertel dat hy nog altyd inspirasie uit The Office getap het, maar hy het nooit gedink hy sou die Afrikaanse weergawe vervaardig nie.
“Vorige reekse soos Hotel en Taktiek bevat elemente van The Office en dit was nog altyd vir my ’n groot inspirasie. Toe kykNET my nader om ’n Afrikaanse weergawe van die reeks te maak, het ek nie vir een oomblik gehuiwer nie.”
In die oorspronklike reekse is die besigheid ’n papiermaatskappy, maar Bennie en sy span het besluit om dit te verander na ’n fabriek wat onder meer polonie vervaardig.
“Mense voel so ’n bietjie ongemaklik oor polonie. Ons het dit altyd as kinders geëet, maar jy sal nie sommer by ’n braai met polonie opdaag nie. Boonop is polonie pienk en vervelig.”
Volgens Bennie het hulle die regte vir die reeks gekoop en was daar sekere vereistes waaraan hulle moes voldoen.
“Ons moet konsekwent wees en daar is vier karakters wat min of meer soortgelyke karakters moet uitbeeld as wat in die oorspronklike reeks voorkom.”
Die rolverdeling bestaan onder meer uit Albert Pretorius, Sipumziwe Lucwaba, Lida Botha en Schalk Bezuidenhout.
Schalk, wat die rol van Tjaart vertolk en ’n medeskrywer is, sê sy karakter is heeltemal die teenoorgestelde van Danny wat hy in die reeks Hotel vertolk het.
“Danny was baie naïef oor die lewe, teenoor Tjaart wat geskei en ’n bietjie van ’n pierewaaier is. Sy selfvertroue verras soms vroue, maar afgesien van sy voorliefde vir vroue, is hy baie ernstig oor sy werk.”
As skrywer sê Schalk dit was vir hulle belangrik om die reeks so oorspronklik as moontlik te maak.
“The Office en sy karakters is baie geliefd en die laaste ding wat jy wil hê is dat dit afsteek teenoor die Britse of Amerikaanse reekse. Ek dink ons het geslaag en ’n nuwe oorspronklike reeks met oorspronklike karakters geskep. Al wat dit met sy eweknieë gemeen het, is die feit dat dit in ’n kantoor afspeel.”
Die eerste twee episodes het die afgelope week op Showmax verskyn, en Schalk sê hulle het reeds goeie terugvoer gekry.
“Mense het na my toe gekom en gesê hulle was skrikkerig dat die Afrikaanse weergawe hulle gaan teleurstel, maar hulle voel ons het ’n oorspronklike en snaakse reeks in eie reg gemaak. Dit maak my geweldig trots.
Die Kantoor is elke Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en elke nuwe episode word elke Dinsdag op Showmax gelaai.
