Minder as vier weke ná die ondertekening van ʼn Memorandum van Verstandhouding (MvV) tussen die Verenigde State van Amerika (VSA) en Iran, lyk dit of president Donald Trump se geduld met radikale elemente in Teheran dalk finaal besig is om op te raak. Trump het Iran die geleentheid van ʼn leeftyd gebied: politieke oorlewing, dramatiese ekonomiese verligting en die kans op ʼn noodsaaklike herskikking van verhoudinge deur middel van ʼn uitgebreide, en deels uitgestelde, onderhandelingsproses. Wat Iran die afgelope week egter gewys het, is dat die regime nie in onderhandelde skikkings belangstel nie, maar wel in mag en die vermoë om groot dele van die wêreldekonomie gyselaar te hou.
Sedert die ondertekening van die MvV dring Iran daarop aan dat skepe wat onder meer olie en vloeibare aardgas deur die Seestraat van Hormoes vervoer, roetes naby die Irannese kus moet volg en dat alle verkeer deur die seestraat deur Iran gekoördineer en beheer moet word. Die MvV bepaal egter nêrens so iets nie. Dit was ook voor die oorlog nie die praktyk nie, en Iran het ingevolge internasionale reg geen aanspraak op volle beheer oor die seestraat nie.
Tydens die oorlog, en veral weens die Amerikaanse blokkade van Iran se hawens, het Iran enorme ekonomiese skade gely. Wat Trump met die MvV gedoen het, was om ʼn groot wortel voor Iran se neus te hang. Omvattende verligting van sanksies, insluitend die vrystelling van gevriesde fondse in bankrekeninge in Katar en die reg om weer olie in Amerikaanse dollars op die internasionale mark te verkoop, kon aan Iran ʼn reuse-ekonomiese hupstoot gee.
Vir die radikale elemente van die regime in Teheran is die gesondheid van die Irannese ekonomie egter nie ʼn prioriteit nie. ʼn Magshefboom is vir hulle belangriker, en die vermoë om seevaart deur die Seestraat van Hormoes te beheer én te ontwrig, is ná Iran se verlies aan invloed in die Midde-Ooste die afgelope tyd, sy laaste groot magshefboom.
Dinsdag se aanval op skepe wat naby die kus van Oman deur die seestraat beweeg het, bewys die desperaatheid van die Irannese regime. Iran se strategie die afgelope maande was om tyd te wen: om die tydperk van hoë oliepryse te rek en sodoende Amerika tot ʼn gunstiger ooreenkoms te dwing. Daarna wou Iran ʼn omgewing skep vir langdurige onderhandelinge waar die einddatum weens tegniese redes voortdurend uitgestel kon word.
Iran het egter ʼn paar denkfoute begaan. Terwyl talle Golflande teen ʼn verstommende spoed alternatiewe ontwikkel het om hul olie en gas deur die Rooi See en ander hawens en pyplyne uit te voer en sodoende Hormoes te omseil, het skepe ook toenemend internasionaal erkende seeroetes naby die kus van Oman begin gebruik. Hierdie roetes plaas hulle buite Iran se jurisdiksie. Hoe langer hierdie situasie voortduur, hoe groter is die kans dat Iran se magshefboom al hoe swakker word.
Terwyl Irannese sedert verlede Saterdag “Dood vir Amerika” in die strate van Irannese stede uitroep, as deel van Ali Khamenei se uitgebreide begrafnisproses, en beelde van Donald Trump op die stadspleine van Teheran verbrand word, is die res van die wêreld besig om aan te beweeg.
By die Navo-beraad in Ankara die afgelope week was dit duidelik dat dit lankal nie meer net die VSA is wie se geduld met Iran besig is om op te raak nie. Europese lande het dringend vloeibare aardgas uit Katar nodig om hul stoorruimtes voor die komende winter aan te vul. Die Golflande kan en wil ook nie langer deur Iran gyselaar gehou word met dreigemente van aanvalle op skepe in die seestraat nie.
Die tyd het nou aangebreek vir die VSA om saam met Europese lande, soos Brittanje, Frankryk, Duitsland en Italië, en in samewerking met die Golflande, beheer oor die Seestraat van Hormoes te neem. President Trump was twee maande gelede versigtig vir so ʼn opsie weens die risiko van Amerikaanse lewensverlies. Iran is egter militêr só verswak dat sy desperate missielaanvalle op skepe die omvang van die krisis bevestig waarin die diep verdeelde regime in Teheran verkeer. ʼn Internasionale mag behoort die seestraat relatief maklik onder beheer te kan bring en Iran se laaste groot magshefboom finaal te breek.
Wat Iran die afgelope week bewys het, is dat die regime nie met onderhandelinge vertrou kan word nie. Daar was nooit ʼn ooreenkoms dat Iran volle beheer oor die Seestraat van Hormoes sou kry nie. Pakistan en Katar het verskeie diplomatieke kanale geskep waardeur die VSA en Iran enige geskille vinnig kon bespreek en oplos om ʼn verbreking van die MvV te voorkom. Iran het egter steeds besluit om Dinsdag missielaanvalle op skepe buite sy waters uit te voer.
Die enigste opsie wat nou oor is, is ferm optrede deur die VSA, Europa en die Golflande om met militêre mag beheer oor die Seestraat van Hormoes te neem. Ná Iran se optrede die afgelope week behoort daar wêreldwye steun vir so ʼn stap te wees.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek-https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-74-10-Jul-2026.pdf