Meer as 284 000 mense is teen die einde van 2024 regoor die wêreld as vermis aangemeld.
Die Internasionale Rooikruis-komitee en die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging werp vandag die kollig op families van vermiste persone tydens ’n streeksgeleentheid wat in Pretoria aangebied word.
Dié konferensie vind plaas in aanloop tot Internasionale Dag van Vermiste Persone wat op 30 Augustus gehuldig word.
Die Rooikruiskomitee meen die getal aangemelde gevalle weerspieël net ’n breukdeel van die werklikheid.
Die komitee se forensiese spesialis, Lucinda Evert, sê elke vermiste persoon verteenwoordig ’n gesin wat met seer en onsekerheid leef.
Sy meen die komitee werk saam met owerhede en organisasies om families te ondersteun en antwoorde te vind.