Walter Ernst
Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het vanoggend bevestig dat sewe matriekvraestelle en memorandums uitgelek het voordat die matriekeksamen afgelê is.
Die bedrog is deur merkers opgemerk vanweë ooreenstemmings met die memorandums. Die vraestelle waar ongerymdhede opgemerk is sluit onder meer Engels Huistaal se eerste, tweede en derde vraestel, Wiskunde se eerste en tweede vraestel en Fisiese Wetenskappe se eerste en tweede vraestel in.
Volgens Gwarube is sewe skole in die Pretoria-omgewing geraak en voorlopige ondersoeke dui daarop dat ’n geskorste amptenaar in die nasionale departement van basiese onderwys, wat self ’n kind in graad 12 het, die vraestelle laat uitlek het.
Die inligting is glo op ’n geheuestokkie gelaai en só versprei.
26 leerlinge het tot dusver erken dat hulle die vraestelle vooraf onder oë gehad het en die departement het ‘n saak by die polisie aangemeld.
Die departement het ’n voorlopige verslag oor die skending aan die Raad vir Gehalteversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding, Umalusi voorgelê, wat dit tans bestudeer, terwyl Gwarube ook onmiddellike ingrypings en maatreëls ingestel het om die integriteit van die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae te beveilig, wat sy op 12 Januarie 2026 sal aankondig.
Juané van der Merwe-Mocke, die adjunk-uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, Fedsas, sê die feite wat nou bekend is toon ’n ernstige en doelbewuste skending van die sekuriteit van die eksamenstelsel, afkomstig uit die departement se eie eksamenafdeling.
Sy sê dit is kommerwekkende onreëlmatighede, omdat die hele eksamenstelsel staatmaak op absolute integriteit, veral aan die kant van die nasionale departement, maar meen dis egter bemoedigend dat die skending deur die departement se eie nasienprotokolle opgespoor is.
“Die Minister se onmiddellike en ferm reaksie is positief. Dit is duidelik dat sy die erns van die skending erken en dat sy die regte boodskap uitstuur dat daar geen ruimte is vir interne korrupsie of oneerlikheid in die eksamenstelsel nie. Die feit dat die betrokke amptenare deur dissiplinêre prosesse én strafregtelike klagte in die gesig gestaar word, skep die tipe aanspreeklikheid wat noodsaaklik is om die stelsel se geloofwaardigheid te herstel en beskerm,” het Van der Merwe-Mocke gesê.