2 Augustus 2024
Die 12 meisies van die Pretoria High School for Girls, wat vroeër geskors is hangende ‘n ondersoek oor beweerde rassisme op ‘n WhatsApp-groep, eksklusief vir wit leerlinge, is onskuldig bevind op alle aanklagte teen hulle.
Die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane het vroeër die week die skool besoek nadat ‘n rasseherrie ontstaan het omdat die wit leerlinge glo hulle swart skoolmaats op die groep bespreek het. Hulle het onder meer gesê dat daar in Girls High twee stelle reëls is, afhangend van jou ras.
LEES OOK: Girls High: Dissipline, en opvoeding nié net die skool se verantwoordelikheid nie, sê LUR
‘n Tugverhoor vir die leerlinge het Dinsdag en Woensdag plaasgevind. Agt van die betrokke leerlinge is op die leerlingraad, maar hulle titels is tydelik gestroop nadat hulle geskors is. Hulle behou egter hulle titels nou dat hulle onskuldig bevind is.
Die skoolhoof, Phillipa Erasmus is vir drie maande geskors omdat sy glo reeds verlede jaar van die groep vergewis is, maar het glo niks daaraan gedoen nie.