Die Europese veiligheidsargitektuur was nog nooit staties nie. Deur die eeue heen het dit voortdurend verander as gevolg van oorloë en verowerings, die vereniging en verbrokkeling van ryke en die afskeiding van gebiede. Ná die einde van die Koue Oorlog was ʼn herskikking noodsaaklik. Die uiteindelike rigting waarin hierdie herskikking ontwikkel het, was egter een van toenemende skeiding tussen Wes-Europa en Rusland. Sentraal-Europa en groot dele van Oos-Europa het stelselmatig wegbeweeg van die Russiese invloedsfeer na dié van Wes-Europa.
Die formalisering van die Europese Unie in 1993, die uitbreiding van Navo deur Sentraal- en Oos-Europa tot by die Russiese grens, die veranderende militêre posisie van die VSA in Europa, Navo se betrokkenheid by oorloë in die Balkan en sy indirekte betrokkenheid by die konflik in Georgië, asook Rusland se toenemende spanning met buurlande wat uit sy invloedsfeer begin beweeg het, het alles vrae laat ontstaan oor die volhoubaarheid van die Europese veiligheidsargitektuur en sy vermoë om langtermynvrede op die vasteland te verseker.
In Desember 1991 het die Russiese president Boris Jeltsin ʼn brief aan Navo-leiers gerig waarin hy Rusland se moontlike toekomstige lidmaatskap van die alliansie as een van die langtermyndoelwitte van sy presidentskap beskryf het. Vroeg in 2000 het Wladimir Poetin, eers as waarnemende en daarna as pasverkose president van Rusland, die moontlikheid van Russiese Navo-lidmaatskap meer as een keer in die openbaar bespreek. Hy het die kwessie onder meer tydens ʼn onderhoud met die BBC aangeroer.
Uiteindelik sou Rusland nie, soos verskeie ander voormalige Sowjetlande, by Navo aansluit nie, maar eerder ʼn direkte teenstander van die alliansie word. Poetin se imperialistiese aspirasies, sy teleurstelling oor die verbrokkeling van die Sowjetunie en sy diepe afkeur in Navo se ooswaartse uitbreiding het kort ná sy uitsprake in 2000 al hoe duideliker na vore gekom. Sedertdien beskou die Kremlin Navo as sy grootste veiligheidsbedreiging, terwyl daar in Brussel ʼn konsensus ontstaan het dat Rusland die grootste enkele veiligheidsbedreiging vir Europa inhou.
Rusland se besetting van Transnistrië in Moldawië sedert 1992, die kortstondige oorlog tussen Georgië en Rusland in 2008 en die besetting van die Krim in 2014 was vroeë aanduidings van die verslegtende verhouding. Die afgelope byna vyf jaar se oorlog in Oekraïne en die uitgebreide hibriede konflik tussen Rusland en Europa het die spanning egter na ʼn nuwe vlak gevoer. Hierdie ontwikkeling hou enorme veiligheidsrisiko’s vir die hele vasteland in.
Rusland se veldtog van sabotasie, kuberaanvalle, disinformasie, hommeltuigindringings in die lugruim van verskeie Oos-Europese lande, ander skendings van die Europese lugruim, ontwrigting van infrastruktuur en sluipmoordkomplotte skep ʼn omgewing waarin Europese lande en Navo hul verdedigingsvermoëns en intelligensiebedrywighede drasties moet uitbrei.
Skuld kan maklik uitgedeel word. Daar is goeie rede om terugskouend te vra of Europa en die VSA in die 1990’s nie ʼn gulde geleentheid verspeel het om Rusland nader aan die Weste te trek en sodoende die spanning van die afgelope twee dekades te voorkom nie. Rusland se optrede, deur sowel hibriede as konvensionele oorlogvoering, moet egter ook ten sterkste veroordeel word.
Die werklikheid is dat die huidige inrigting van die Europese veiligheidsargitektuur meer risiko’s as waarborge vir toekomstige veiligheid bied. In hierdie opsig is Wladimir Poetin se aandrang, deur sy onderhandelaars tydens vredessamesprekings in Abu Dhabi verlede week, op ʼn herskikking van hierdie veiligheidsargitektuur geregverdig. Poetin se motiewe en eise is egter alles behalwe daarop gerig om veiligheid in Europa te bevorder. Dit staan eerder in diens van sy eie imperialistiese ambisies.
Sedert die einde van die Koue Oorlog is die Europese veiligheidsargitektuur op verskeie handveste en die beginsels van soewereiniteit, territoriale integriteit en die reg van state om hul eie alliansies te kies, gegrond. Hierdie beginsels het die ou Koue Oorlog-logika van invloedsfere, soos dit by Jalta in 1945 bevestig is, verwerp ten gunste van ʼn orde waarin kleiner state nie meer as buffers of onderdane van groot moondhede behandel word nie. Hierdie verskuiwing het egter ʼn eensydige herinrigting van die Europese veiligheidsargitektuur meegebring. Rusland, wat nie ʼn Westerse land is nie en nie dieselfde tradisie van Westerse denke oor soewereiniteit en invloedsfere deel nie, het hierdie nuwe benadering nog altyd verwerp.
Die oplossing vir hierdie botsing tussen die beginsels en veiligheidsbelange van Navo-lidlande en Rusland was nooit ʼn oorlog soos dié in Oekraïne of bloot ʼn reuse-militêre heropbou regoor Europa, soos wat Europese leiers tans voorstaan nie. Die oplossing lê eerder in ʼn sinvolle herskikking van die veiligheidsargitektuur wat ruimte bied vir ʼn balans tussen Westerse beginsels en Russiese aspirasies.
Hoewel Rusland en Poetin se eise verregaande is, is Europese leiers se verwerping van die moontlikheid om die Europese veiligheidsargitektuur te hersien, eweneens onnodig. ʼn Hersiening beteken nie dat daar aan Poetin oorgegee word nie. Die oplossings lê in die versterking van bestaande instellings en ooreenkomste, maar ook in die bou van vertrouensbande tussen die Weste en Rusland. Dit is iets wat die Trump-administrasie tans aktief probeer bewerkstellig, ondanks hewige kritiek.
Europa moet sonder twyfel sy verdediging en intelligensievermoëns opskerp om te verhoed dat Rusland se hibriede oorlogvoering Europese lande destabiliseer. Langtermynveiligheidswaarborge vir Oekraïne en ander Oos-Europese lande is ook noodsaaklik om te verseker dat Rusland nie die indruk kry dat hy lande wat voorheen binne sy invloedsfeer geval het, na willekeur kan aanval nie.
Die Weste moet egter ook besef dat Rusland en sy leiers anders oor hierdie kwessies dink. Hulle denke is steeds gewortel in die logika van Jalta en nie in Brussel se beginsels oor soewereiniteit nie. Daarom moet Rusland se rol as ʼn globale moondheid, sy behoefte aan ʼn invloedsfeer en sy diepgewortelde behoefte aan respek, veral ná die vernedering wat die land in die 1990’s ervaar het, sterker in ag geneem word.
Dit verg leiers met politieke kapitaal, die vermoë om langtermyn-oplossings te bedink, dit aan die Westerse wêreld oor te dra en genoeg steun daarvoor te werf. Ongelukkig vorm Poetin se metodiek en die Weste se gebrek aan sterk leierskap tans ʼn gevaarlike kombinasie in die strewe na langtermynvrede in Europa.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-94-20-Nov-2026.pdf