Luister nou

’n Reusegroep matrieks het dié week in Gauteng hulle eindeksamen begin skryf.

Deur Seugnet van Zyl

’n Reusegroep matrieks het dié week in Gauteng hulle eindeksamen begin skryf.

Die 203 794 matrieks, waaronder 152 527 voltydse en 51 267 deeltydse kandidate, is die grootste groep matrikulante wat dié provinsie nog opgelewer het. Dit is 11 049 meer matrieks as verlede jaar.

Dié groep, wat in 2015 die skoolstelsel as graadeens betree en deur die Covid-pandemie beïnvloed is tydens die oorgang van die intermediêre fase na die senior fase, sal tot 26 November die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen aflê.

Rekenaartoepassingstegnologie was die eerste vak wat vanjaar se matrieks moes skryf.

Leerders en onderwysers het saamgestem dat die rekenaartoepassingstegnologievraestel billik was. Die handleidings was vanjaar net in Afrikaans, waar dit voorheen in Afrikaans en Engels was sodat leerlinge dan op die Engelse terminologie kon terugval sou die Afrikaanse vertaling vir hulle vreemd gelyk of geklink het.

“Taal bly maar altyd ’n probleem by rekenaartoepassingstegnologie, maar met net die een vraestel vanjaar is vraaginterpretasie bemoeilik,” verduidelik Constanze van der Walt, nasionale operasionele bestuurder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Matrieks het die afgelope week ook inligtingstegnologie, Engels, ekonomie en meganiese tegnologie geskryf.

“Sommige skole het probleme ondervind met die bronprogramme in inligtingstegnologie, maar dis gou opgelos. Leerlinge het gedink die eindeksamenvraestel was moeiliker as die rekordeksamen. Onderwysers het gedink die vraestel was billik en sommige het gedink daar kon meer vrae oor programmeringsbeginsels gewees het,” sê Van der Walt.

Volgens Lebogang Maile, Gautengse LUR vir onderwys, sal die provinsie se matrieks 77 vakke skryf, wat 155 vraestelle behels. Om dit te kan vermag, sal 2,7 miljoen vraestelle met

76,5 miljoen gedrukte beelde (print images) weekliks gedruk, verpak en versprei word om te verseker dat matrieks daagliks sal kan skryf.

Meer as 60 000 matrieks in Gauteng sal besigheidstudies, geografie, geskiedenis, lewenswetenskappe en toerisme skryf, terwyl meer as 30 000 oor fisiese wetenskappe en meer as 20 000 oor rekeningkunde en ekonomie sal moet rekenskap gee.

Landswyd sal 962 832 matrieks die eindeksamen aflê. Dit sluit 815 051 voltydse en 147 781 deeltydse kandidate in.

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het op ’n mediakonferensie gesê 51 104, waaronder 14 800 in Gauteng, merkers sal ná afloop van die eksamen die vraestelle by 189 merksentrums nasien.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas sê hierdie matriekgroep se eksamens behoort vlot te verloop.

“Daar was min ontwrigtings. Ons hoop regtig dat hulle goed sal presteer.”

Deacon sê hy is wel bekommerd oor die kort rustyd van twee weke ná die rekordeksamen voor vanjaar se matrieks weer voor die boeke moes inskuif vir die eindeksamen.

“Jy moet daarom die vermoë kan hê om te leer wanneer dit nodig is en ook af te skakel, want jy kan nie vir ses weke aaneen leer nie.”

Anders as ander jare is daar vanjaar ’n verkiesing in die middel van die eindeksamen wat volgens Deacon opwinding of ’n uitdaging kan skep.

“Party van hulle gaan al 18 wees teen die tyd van die verkiesing en sal vir die eerste keer kan stem.”

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-88-16-Okt-2026.pdf

Gewilde Nuus

Cilliers Brink

Brink: Ek was nie verras toe Moya my verraai nie

Internasionale Perspektief nuut

Rubio waarsku dat Weste dalk laaste kans op oorlewing het

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 16 Oktober 2026

Fotokrediet: Daily Maverick

Suliman Carrim in hegtenis geneem

Fotokrediet: Freedom Front Plus

Die VF-Plus kritiseer die Konstitusionele Hof se besluit

Ander Nuus Artikels

Gemini_Generated_Image_pki0jdpki0jdpki0
Groot dele van hoofstad sonder krag
Mark Oppenheimer
Ons moet vry wees om die regering te kritiseer
Cilliers Brink
Brink: Ek was nie verras toe Moya my verraai nie
Internasionale Perspektief nuut
Rubio waarsku dat Weste dalk laaste kans op oorlewing het
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 16 Oktober 2026

Luister nou