Luister nou

Kragdadigheid van ’n boer

Deur Redaksie

Alta Strauss

Daar is ’n spesifieke soort waagmoed wat ’n mens in landbou leer ken – die waagmoed om op te tree voordat omstandighede noodwendig gunstig of perfek daar uitsien. Die kragdadigheid om jou plan te volg, al voel jou motivering nie altyd op ’n hoogtepunt nie. Wanneer dit kom by landbou is daar nie die luuksheid van wag totdat alles ideaal is of reg in plek val nie. In boerdery is daar só baie veranderlikes wat op hul beurt hul eie eise stel.

Boerdery leer ons iets van die lewe, wat in baie ander areas maklik misgekyk word. Soos dat om te wag vir die perfekte tyd, of totdat daar geen onsekerhede is nie, of totdat alles net reg voel, niks anders as ’n illusie is nie. Die regte tyd kom baie selde op sy eie, maar is dikwels die samekoms en uiteinde van goeie beplanning, strategie, konsekwentheid en toewyding.

Wanneer ’n boer besluit om iets aan te pak, doen hy of sy dit nie net met hoop nie, maar met innerlike vasberadenheid. Dit is nie ’n gevoel nie, maar ’n wete dat ongeag die uitkoms hulle alreeds weet presies wat hulle gaan doen, hetsy of die uitkoms gunstig of minder gunstig is, goed of sleg.

Dit is daardie doelgerigte beslistheid wat van buite af dalk eenvoudig mag lyk, wat die soliede fondasie is waarop gebou word. Daardie elke oggend vroeg opstaan, daardie een ekstra stuk grond wat voorberei word, daardie een ekstra kanaal wat gebou word, daardie een ekstra stuk pad wat geskraap word. Dis take wat nie altyd opwindend is nie, maar dis meer as net nog ’n taak, meer as net nog ’n werksdag. Dit is ’n stel beginsels waarvolgens hulle leef, beweeg en bestaan. Want vertroue word nie gebou deur daardie “regte” gevoel nie, maar deur dade, en deur ’n projek aan te pak en deur te sien.

Moenie wag vir selfvertroue om strategie, toewyding en gedetermineerdheid te vervang nie. Wees kragdadig in die uitvoer van jou planne. Goeie beplanning en strategie gee struktuur aan ’n projek. Alhoewel selfvertroue nodig en goed is, is dit getrouheid en konsekwentheid wat die volhoubaarheid van iets bepaal.

Toewyding en lojaliteit is om aan te hou om die regte ding te doen, al sien jy nog nie die vrugte aan die boom nie. Dit is om te werk en op te daag op die moeilike dae en die dae waarop daar nie die toejuiging van ’n skare is nie. Dit is om die dag aan te gryp selfs al is jy nie seker van die uitkoms nie. Te ploeg en te plant al het die reën nog nie geval nie. Getrou te versorg en in die proses te leer en te groei, aan te hou en te volhard. Hierdie deursettingsvermoë slyp karakter en vorm integriteit. Harde werk, toewyding en konsekwentheid oortref uiteindelik enige hoeveelheid natuurlike talent.

Talent mag dalk ’n goeie vertrekpunt wees, maar nie genoeg om jou die eindpunt te laat bereik nie. Dit kan aan jou ’n voorsprong gee, maar nie volhoubaarheid waarborg nie. Talent mag dalk jou voet in die deur kry, maar toewyding is nodig vir die momentum om voort te bou, terwyl deursettingsvermoë aan jou die veerkragtigheid gee om op te staan selfs in die aangesig van teenstand.

Daarom is dit belangrik om ’n langtermynvisie te hê en nie kortsigtig met jou toekomsplanne om te gaan nie. Om soos ’n boer elke oggend op te staan, te kyk na dit wat jy tot jou beskikking het, te oorweeg en te bereken wat jy gaan nodig hê. Om aan die werk te spring en te doen wat jy kan met dit wat jy het. Met integriteit en deug daarmee om te gaan. Nie jou beginsels prys te gee nie, maar aanpasbaar genoeg te wees om jou benadering tot ’n saak te verander om sodoende met nuwe en innoverende idees na vore te kom.

Die kern van hierdie boodskap is eenvoudig, maar nie oppervlakkig nie, en dit is dat die “regte” tyd nie ’n gevoel is nie, maar ’n ingesteldheid. Dat sukses nie gebore word uit oomblikke van inspirasie nie, maar deur op te daag selfs op die stil en moeilike dae. Nie te wag totdat jy reg en gereed voel vir die uitdaging nie, maar die uitdaging toe te laat om jou reg te slyp vir die selfs groter sukses en hoër vlak van uitnemendheid wat kom.

Alta Strauss is ’n breinprofielpraktisyn, motiveringspreker en skrywer.

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-87-09-Okt-2026.pdf

Gewilde Nuus

V (3)

Minder reise gaan lei tot minder vulstasies

V (2)

Geen politieke wil om plaasaanvalle stop te sit

Roelf Meyer by 'n kunsuitstalling in Washington.

Daarom was Roelf Meyer nie by Witkruisprojek

Internasionale Perspektief nuut

ANC se linkse vriende val een ná die ander

Grasland Nasionale Park 1

Nuwe Grasveld Nasionale Park in Oos-Kaap afgekondig

Ander Nuus Artikels

Israel
7 Oktober: Waar bevind die wêreld hulself 3 jaar later?
AfriForum
AfriForum ondersoek brandstofheffings self
V (3)
Minder reise gaan lei tot minder vulstasies
V (2)
Geen politieke wil om plaasaanvalle stop te sit
Roelf Meyer by 'n kunsuitstalling in Washington.
Daarom was Roelf Meyer nie by Witkruisprojek

Luister nou