Gryskrag doen namens ouer persone ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) en Postbank om dringend te verseker dat ouer persone wat nog nie ’n swart Postbank-kaart ontvang het nie, sonder verdere onnodige oponthoud toegang tot hul toelaes kry.
Die sperdatum vir die vervanging van goue SASSA-kaarte was reeds 31 Augustus 2026. Postbank sê toelaes word steeds in begunstigdes se rekeninge inbetaal, maar iemand wat nog ’n goue kaart gebruik, moet eers die nuwe kaart bekom voordat die geld toeganklik is. Die voorsitter van Gryskrag, Ina Wilken, sê vir ’n senior wat van daardie toelae afhanklik is vir kos, vervoer, verblyf of medisyne, is die verskil tussen geld in ’n rekening en geld wat gebruik kan word, wesenlik.
“Hierdie frustrasie het ’n geskiedenis. Die kaartvervangingsproses is reeds in 2025 gekenmerk deur veranderende sperdatums, lang toue en stadige stelsels. Berigte het ouer persone beskryf wat ure lank sonder voldoende sitplek moes wag en soms onverrigter sake huis toe is. In Augustus vanjaar het Postbank ook ’n tydelike kaarttekort by ’n uitreikpunt in George beleef. Die parlement se portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling het kort voor die jongste sperdatum spesifiek kommer uitgespreek oor ouer persone en mense met gestremdhede wat sukkel om die proses te voltooi.”
Die Wysigingswet op Ouer Persone 1 van 2025 is op 6 November 2025 afgekondig, wat beteken dat die wetgewende hersiening afgehandel is. Byna elf maande later dui die regering se register egter steeds aan dat die datum waarop die wysigingswet in werking tree, nog deur die President geproklameer moet word. Gryskrag het intussen ’n vertoë gerig om die proses te bespoedig, maar het nog nie antwoord daarop ontvang nie.
“Ons vra die Presidensie en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om die stand van die proklamasieproses so gou moontlik bekend te maak, enige oorblywende struikelblokke te verduidelik en ’n tydraamwerk vir inwerkingtreding te gee,” sê Wilken.
Wilken sê verder dat die onderskeid tussen afkondiging en inwerkingtreding saak maak.
“Die wysigingswet bevat onder meer ’n bepaling wat vereis dat openbare diensfasiliteite en dienspunte voorkeur aan ouer persone gee. Die bepaling is nog nie in werking nie. Dit is dus nie nog ’n afdwingbare reël terwyl die proklamasie hangend is nie. Intussen bly die oorspronklike Wet op Ouer Persone 13 van 2006 van krag. Artikel 5(3)(b) bepaal dat vertragings in handelinge of besluite wat ’n ouer persoon raak, sover moontlik vermy moet word.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-86-02-Okt-2026-1.pdf