Luister nou

Nie almal is swemmertjies nie!

Deur Redaksie

Alta Strauss

Wanneer jy geroep is om die groot oseaan te wees, moenie besluit om ’n plassie te raak net omdat ander nie kan swem nie. Nie omdat jy selfvoldaan of verwaand is nie, maar bloot omdat jy jou waarde ken en nie nodig het om jouself klein of gering te maak om in te pas by ander se onsekerhede nie. Leef passievol. Gryp elke geleentheid wat oor jou pad kom met beide hande aan. Werk hard. Wees getrou. Gee jouself toestemming om te borrel van vreugde.

Daar is iets bevrydend aan selfversekering. Wanneer jy waarlik goed voel in jou eie vel. Onbeskaamd jou beste lewe leef! Dit is soos om uiteindelik jou eie hartklop te hoor, sonder die behoefte om dit te oordonder of te verduidelik. Wanneer jy selfversekerd is, het jy nie nodig om te kompeteer met ander nie. Jy vier jou eie uitsonderlikheid, nie as ’n daad van trots of op ’n wyse wat ander afkraak nie, maar as ’n uitnodiging vir ander om ook hul drome te verwesenlik en hul grootheid en beloftes in besit te neem. ’n Uitnodiging vir ander om weer hul hartklop te vind en te hoor. Hul ritme te vind.

Nie elkeen se pad loop parallel met joune nie. Elkeen is op hul eie pad met hul eie suksesse en hul eie worstelinge. En soms gebeur dit dat ander rondom jou in hul eie onvolwassenheid staan en verwag dat jy binne die grense waarin hulle gemaklik voel, moet bly. Maar jy hoef nie jou toekoms in te perk om by iemand anders se vrees in te pas nie.

Elke dag behoort heilig en kosbaar te wees! Elke dag behoort voluit geleef te word, soos die bordjie wat ek die anderdag op die braaihout in die hardewarewinkel raakloop: “Leef vandag asof jy vanaand gaan braai!”

Al het dit my heerlik laat lag, is daar soveel waarheid in hierdie woorde opgesluit. Dit is ’n herinnering dat tyd ’n geskenk is en ons die dinge moet doen wat ons hart met vreugde vul. Nie elke negatiewe opmerking het jou aandag nodig nie. Jy hoef nie ’n drie paragraaf lange verduideliking te gee as regverdiging vir elke besluit wat jy neem nie.

Gryp hierdie dag aan! Want hierdie dag is ’n geleentheid om iets buitengewoon uit die gewone te skep! ’n Oomblik nog nie vantevore geleef nie, wat wag om ontgin te word. ’n Uitdaging nog nie vantevore oorwin nie. ’n Droom wat jy nie eens geweet het bestaan nie, en jy het alles om dit ’n realiteit te maak.

Hierdie “alles” beteken nie dat alles maklik is nie. Dit beteken dat jy ten spyte van en in alles steeds jou kop kan optel en trots voel. Trots omdat jy nie opgegee het toe dinge moeilik was nie. Nie in sak en as gaan sit het toe elke ding nie uitgewerk het soos jy gehoop het dit sou nie. Nee, jy het die deursettingsvermoë gehad, toe tou opgooi makliker sou wees. Moenie toelaat dat die hardheid van die wêreld in jou hart nesmaak nie. Nederigheid, sagtheid, skoonheid, intelligensie en sukses kan alles saam bestaan.

Jy is besig om te bou aan jou verhaal. Jy is besig om te bou aan jou toekomstige self. Ken jou waarde. Beskerm jou vrede. Vergewe maklik. Vier ander se suksesse met dieselfde oorgawe as jou eie. Niks lyk beter aan jou as absolute vreeslose selfvertroue nie. Wees onbeskaamd jy,  foute en tekortkominge en al. Dit het ’n unieke aantrekkingskrag. Dit verander hoe jy na jouself kyk. Dit verander hoe jy ander om jou sien. Dit verander hoe ander jou ervaar.

Wees soos die groot oseaan! Kyk hoe ver jy alreeds gekom het. Kyk hoeveel pragtige lewensreise en geleenthede lê nog voor jou wat net wag vir jou om die meeste daarvan te maak. Wees die een wat ander aanmoedig wat deur moeilike omstandighede gaan, selfs al gaan jy self deur moeilike omstandighede van jou eie. Omring jouself met ander net soos jy! Soort soek soort. Yster slyp yster en vriende vorm mekaar!

Alta Strauss is ’n breinprofielpraktisyn, motiveringspreker en skrywer.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-85-25-Sept-2026.pdf

Gewilde Nuus

Polisiebeamptes

Polisie sal nie rus tot waarheid oor moorde ontbloot is

Sakekamer

Suid-Afrika is onredbaar maar gemeenskappe kan self

AfriForum

Bozell sien hoe AfriForum plaasmoorde bekamp

Internasionale Perspektief nuut

Kan die ongemaklike linkse huwelik hou?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 25 September 2026

Ander Nuus Artikels

Tempo
Hoekom is advies nodig wanneer u batebeskermingsversekering koop?
Dr.-Theo-de-Jager-2
Saai: Privatiseer Onderstepoort Biologiese Produkte
Polisiebeamptes
Polisie sal nie rus tot waarheid oor moorde ontbloot is
Sakekamer
Suid-Afrika is onredbaar maar gemeenskappe kan self
AfriForum
Bozell sien hoe AfriForum plaasmoorde bekamp

Luister nou