Dr. Dirk Hermann, Kallie Kriel, Brent Bozell en Flip Buys. (Foto: Verskaf)
L.Brent Bozell III, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, het die afgelope week gehoor en gesien wat AfriForum se veiligheidsplanne is.
Bozell het AfriForum se gemeenskapsveiligheidsentrum in Centurion besoek om AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture en tegnologiegedrewe beheerkamers van nader te beskou en te verneem watter rol dié strukture reeds speel in die bekamping van plaasmoorde en ander misdaad in landelike en stedelike gebiede.
Volgens ’n mediaverklaring wat deur AfriForum uitgereik is, kom Bozell se besoek te midde van AfriForum se volgehoue pogings om die dispuut tussen Suid-Afrika en die VSA rakende plaasmoorde en landelike veiligheid op te los deur met praktiese voorstelle vorendag te kom. As deel van dié pogings het AfriForum onlangs ’n veiligheidsvoorstel aan die Suid-Afrikaanse regering gemaak.
Dié voorstel wys hoe gemeenskapsveiligheidstrukture, soos AfriForum se landwye netwerk van 178 buurt- en plaaswagte, binne die raamwerk van die wet en in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), privaat sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsrolspelers kan optree om die land se misdaadkrisis gekoördineerd en deur ’n openbare-gemeenskap-vennootskap te takel. Volgens AfriForum is die veiligheidsplan daarop gerig om veiliger omstandighede in die land te skep sodat mense dit nie nodig ag om die land te verlaat nie.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, kom die burgerregteorganisasie se voorstel aan die Suid-Afrikaanse regering op ’n tyd waar daar nog geen oplossing vir die geskil tussen die VSA en Suid-Afrika gevind kon word oor plaasmoorde, landelike veiligheid en ander misdaad nie.
“AfriForum bly daarop gefokus om, in die belang van die land en sy mense, ’n konstruktiewe rol te speel om te help om die geskil tussen die VSA en Suid-Afrika oor plaasmoorde en landelike veiligheid op te los. Indien die Suid-Afrikaanse regering positief reageer op AfriForum se voorstel vir ’n openbare-gemeenskap-vennootskap om misdaad te bekamp, sal dit die stryd teen misdaad in die belang van almal in die land versterk. AfriForum glo ook dat dit ’n positiewe bydrae sal maak om te help om Amerikaanse kommer oor plaasmoorde en ander misdaad die hoof te bied.”
AfriForum se veiligheidsvoorstel aan die Suid-Afrikaanse regering sluit onder meer in die instelling van ’n staande werkkomitee tussen AfriForum en die SAPD wat daarop sal fokus om relevante veiligheidsrolspelers by ’n gekoördineerde strategie teen misdaad te betrek.
Kriel reken dat so ’n strategie sterk sal steun op die gebruik van beheerkamers soos dié van AfriForum, wat tegnologie – insluitend kameranetwerke, kommunikasiestelsels en misdaadanalisesagteware – as magvermenigvuldigers gebruik. Hierdie tegnologieë ondersteun gemeenskapsveiligheidstrukture, privaat sekuriteitsmaatskappye en die SAPD deur onder meer monitering, die koördinering van reaksies en die ontplooiing van hulpbronne tydens noodgevalle.
Ambassadeur Bozell is tydens sy besoek aan AfriForum ontvang deur Kriel en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-85-25-Sept-2026.pdf