Daar is die afgelope maande baie gesê en geskryf oor die opkoms van regse, soms populistiese, soms nasionalistiese en soms bloot patriotiese politieke partye in Europa. Teen hierdie tyd ken almal die Alternatief vir Duitsland (AfD), en is Marine Le Pen en Geert Wilders bekende name by enigiemand wat in Europese politiek belangstel.
Terwyl daar ʼn verskuiwing na regs in die meeste Europese lande plaasvind en die politieke sentrum al hoe kleiner raak, is daar ook ʼn ander belangrike deel van die politieke verandering by linkse partye te bespeur. Die tendens verskil hier van land tot land. Wat wel duidelik is, is dat talle linkse partye in Westerse lande toenemend ʼn ongemaklike huwelik aangaan tussen kiesers met ʼn immigrante-agtergrond, ouer linkse kiesers wat ideologies in die 1960’s en 1970’s gevorm is, en jong, stedelike, globalistiese kiesers – veral jong vroue – met ʼn ekologiese, anti-kapitalistiese en veral sterk oikofobiese ingesteldheid.
Enkele weke gelede het ʼn blok van linkse partye in Swede die verkiesing naelskraap gewen. Vir die eerste keer ooit was meer as 40% van kiesers mense met ʼn immigrante-agtergrond. Hierdie kiesers het in groot getalle vir linkse partye gestem. In een woonbuurt in Stockholm, met ʼn oorwegend Somaliese bevolking, het meer as 90% van kiesers vir ekstreemlinkse partye gestem.
Die afgelope Sondag was dit die voormalige kommuniste van Oos-Duitsland, Die Linke, wat dit in Berlyn reggekry het. Dié party, die mees linkse party in Duitsland, het eerste geëindig nadat dit 25% van die stemme gekry het. Die party se steun kom veral van ouer linkse en kommunistiese kiesers wie se politieke tande in die voormalige Oos-Duitsland geslyp is, jong vroue en immigrante. Die Linke het ook sterk steun onder kiesers van Turkse afkoms geniet. In Berlyn het 51% van vroue jonger as 25 jaar Sondag vir Die Linke gestem, terwyl 33% vir die Groenparty gestem het.
In baie Europese lande word die politieke sentrum met elke verkiesing verder uitgehol. Duitsland is hier ʼn goeie voorbeeld. In Berlyn het die twee politieke partye wat Duitsland dekades lank regeer het, die Christen-Demokrate en die Sosiaal-Demokrate, albei wesenlike steun verloor. Sentrumregse, konserwatiewe stemme beweeg na die regse AfD. Linkse stemme beweeg ook verder na links, na partye soos veral die ekstreemlinkse Die Linke en die Groenparty.
In verskeie Europese lande veroorsaak dit dat die ou sentrumregse en sentrumlinkse partye stadig maar seker wegkwyn. Volgens peilings is daar tans ʼn historiese laagtepunt in steun vir die sentrumlinkse, sentrumregse en liberale hoofstroompartye van Frankryk in volgende jaar se presidentsverkiesing. Daar is ʼn moontlikheid dat die twee kandidate wat na die tweede ronde van die verkiesing deurdring, die regse Marine Le Pen en die ekstreemlinkse Jean-Luc Mélenchon van die La France Insoumise-party kan wees. Sy party, soos Die Linke in Duitsland, is ten gunste van die nasionalisering van huureiendomme, die nasionalisering van verskeie nywerhede, ʼn verdere uitbreiding van welsynsprogramme, hoër belasting en makliker immigrasie en burgerskap vir asielsoekers en vlugtelinge.
In sommige ander lande is daar egter ʼn poging deur die hoofstroom-sentrumlinkse partye om radikale linkse elemente, veral dié wat afkomstig is van mense met ʼn immigrante-agtergrond, binne hul partye te betrek. Die Arbeidersparty in die Verenigde Koninkryk doen dit uit vrees dat dit kiesafdelings in gebiede wat toenemend deur immigrante gedomineer word, kan verloor. Daardeur word radikale Islamitiese politieke kandidate van onder andere Somaliese, Pakistanse en Palestynse afkoms deesdae as kandidate vir die Arbeidersparty voorgehou.
Op 8 Oktober vind daar in die Holborn and St Pancras-kiesafdeling in Londen ʼn tussenverkiesing plaas nadat die vorige Britse premier, Keir Starmer, besluit het om uit die parlement te bedank. In die verlede sou klassiek-linkse politici soos Starmer as kandidate aangewys word. In die komende verkiesing het die Arbeidersparty egter besluit om die Somalies-gebore, Sagal Abdi-Wali, as sy kandidaat aan te wys. Sy verkies om die hijab-hoofbedekking te dra en huldig standpunte wat as baie naby aan antisemitiese en selfs anti-Britse standpunte geklassifiseer kan word.
Met minder as ses weke oor tot die Amerikaanse middeltermynverkiesing is daar ook ʼn ongemaklike huwelik in die Demokratiese Party, met al hoe meer radikale kandidate van die sogenaamde Democratic Sosialists of America wat stelselmatig die party oorneem. Een so ʼn kandidaat is Abdul El-Sayed, wat vir ʼn opskudding gesorg het toe hy as die Demokratiese Party se senaatskandidaat in Michigan verkies is. Dit het met die hulp van die deelstaat se groot Moslembevolking gebeur. Daar is vanjaar nog talle soortgelyke kandidate wat as Demokrate deelneem, met groot onsekerheid oor hoeveel meer gematigde Demokrate uiteindelik vir hulle gaan stem.
Terwyl die ooreenkoms tussen linkse politici en kiesers in Westerse lande en die groter wordende immigrantebevolking veral ekonomies van aard is, is daar ʼn groot breuk in waardes. In die VSA is kandidate soos El-Sayed baie sterk gekant teen Israel, terwyl Jode histories by die Demokrate tuisgehoort het. Moslemkiesers en -politici het ook ʼn afkeur in dinge soos LGBTQIA+-regte en ander liberale waardes, terwyl linkse partye hierdie sake dikwels as sentraal tot hul identiteit beskou. Vir nou is dit ʼn ongemaklike huwelik om politieke mag te bekom. Soos immigrantebevolkings groter word, sal hulle uiteindelik op hul eie die politieke mag kan verkry. Teen dan mag daar ʼn sterk gevoel van politieke verontwaardiging by liberale kiesers ontstaan. Vir nou is daar egter ʼn sterk moontlikheid dat hierdie samewerking tot die groei van meer radikale linkse partye en die verkiesing van meer radikaallinkse kandidate kan lei. Dit maak die politieke kloof in Westerse lande groter en moeiliker om te oorbrug. Daarin lê ʼn groot gevaar vir die stabiliteit en toekoms van Westerse samelewings opgesluit.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-85-25-Sept-2026.pdf