Vyftien nuwe kruise is die naweek by die Witkruismonument langs die N1 tussen Mokopane en Polokwane geplant ter nagedagtenis aan mense wat die afgelope jaar in plaasmoorde dood is.
Nog twee kruise is opgerig ter herinnering aan boere wat onderskeidelik in 1978 en 2018 in plaasaanvalle gesterf het.
Volgens AfriForum Jeug word nagenoeg 3 000 mense wat in plaasaanvalle vermoor is, by die monument vereer. Die organisasie doen ’n beroep op die regering om plaasaanvalle as ’n nasionale prioriteitsmisdaad te klassifiseer en ’n gekoördineerde veiligheidsplan vir landelike gemeenskappe in te stel.
Intussen word die dokumentêr Crossed Out: Confronting Persecution in South Africa môre by die Withuis in Washington vertoon.
Die geslote vertoning is deel van die Witkruisprojek en sal onder meer deur Withuis- en Amerikaanse Staatsdepartement-personeel en mense wat direk deur plaasaanvalle geraak is, bygewoon word.
Die dokumentêr fokus onder meer op politieke aanhitsing, plaasaanvalle, rasgebaseerde uitsluiting en eiendomsreg in Suid-Afrika.
Die openbare bekendstelling vind Vrydag by die National Press Club in Washington plaas.