Hoewel boere gemaan word om nou al voorbereidings te begin tref vir die sterkste El Niño nóg, word daar nie verwag dat voedselpryse noodwendig die hoogte gaan inskiet nie.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê hy is tans nie te bekommerd oor voedselpryse wat kan styg as gevolg van die uitdagings wat dié weerverskynsel aan boere kan stel nie.
“Ek dink ons het langer as net een jaar se El Niño nodig en ’n langer tydperk van hoër dieselpryse voordat dit ’n werklike impak op hoër voedselpryse gaan hê.”
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê die meeste El Niño’s veroorsaak laer as normale reënval en hoër as normale temperature.
Die jongste weervoorspellings dui daarop dat hierdie El Niño van nou af net baie sterker gaan word. Daar word verwag dat die 2026/27-El Niño ondergemiddelde reënval na Suidelike Afrika sal bring, met ’n hoë frekwensie van hittegolwe daarmee saam. Dié El Niño kan waarskynlik daartoe lei dat 2027 die warmste jaar ooit sal wees.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê ’n sterk El Niño kan groot druk op Suid-Afrikaanse boere plaas, veral as dit minder reën en lang tydperke van hoë temperature meebring.
Vir saaiboere kan dié weerverskynsel swakker ontkieming, skade aan gewasse, laer opbrengste en hoër produksiekoste beteken. Veeboere kan weer met minder weiding, watertekorte en duurder voer sit. Uiterste hitte kan ook diere se gesondheid en produksie benadeel.
Van Zyl maan boere om betyds te begin voorberei deur plaaslike weervoorspellings en grondvog dop te hou, waterbronne en besproeiingstelsels na te gaan, water doeltreffend te gebruik en waar moontlik genoeg voer op te bou.
“El Niño verhoog die kans op warmer en droër toestande, maar die uitwerking sal nie oral dieselfde wees nie. Boere moet die voorspellings vir hul eie streek volg en hul water, voer, aanplantings en finansies betyds daarvolgens beplan. Dit kan ’n uitdagende produksiejaar wees, en deeglike beplanning sal belangriker as ooit wees.”
Volgens Van Zyl moet boere daarom hul aanplantings, verwagte opbrengste en uitgawes so goed moontlik teen mekaar opweeg.
“Hierdie besluite sal van streek tot streek en van plaas tot plaas verskil.”
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, som 2026 as die “perfekte storm” op met ongekende oorstromings, bek-en-klouseer en hoë koste van kunsmis en diesel.
“Daar word voorspel dat die jaar sal eindig met ’n warm, droë somer, wat boere dwing om hul produksieplanne en insetbegrotings te hersien. Dit is nie ’n jaar om kanse te waag met marginale lande nie.”
Saai doen ook ’n beroep op boere vir noukeurige beplanning en om vroegtydige ondersteuningsmaatreëls in te stel.
Het jy geweet?
Twee van die El Niño’s met die grootste impak op Suid-Afrika was dié van 1982/83 en 2015/16, wat wydverspreide droogte meegebring het.
Volgens die SAWD het die baie sterk El Niño van 1997/98 gelei tot ietwat hoër as normale reënval oor dele van Suid-Afrika se somerreënvalgebiede.