Die VF Plus het sy voorlegging aan die departement van basiese onderwys (DBO) rakende voorgestelde veranderings aan leerplanne vir die geskiedeniskurrikulum ingedien.
Pretoria FM het vroeër berig dat kritiek opgevlam het nadat berigte daarop dui dat belangrike temas, soos die Amerikaanse en Franse rewolusies en dele van die plaaslike bevrydingstryd, moontlik geskrap óf herstruktureer word. Ander gebeure soos die Anglo-Boereoorlog word ook in die voorgestelde kurrikulum uitgelaat.
Volgens die VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir basiese onderwys, dr. Wynand Boshoff, is die voorgestelde veranderings vyandig teenoor die Afrikaner en die Westerse kultuur, en dwing dit ’n enkele identiteit op ’n diverse land af.
“Die VF Plus stel voor dat burgerlike organisasies die reg kry om self riglyne vir die inhoud en assessering van skoolgeskiedenis te formuleer,” sê Boshoff.
“Die keuse lê dan by skoolbeheerliggame om self te besluit watter leerplan by ’n spesifieke skool aangebied sal word.”
Die VF PLus sê temas wat alternatiewe leerplanne moet dek, is die volgende Suid-Afrikaanse voorgeskiedenis:
- Temas wat verskillende antieke – en klassieke beskawings dek (ca. 4000 vC tot 500 nC)
- Temas wat voor-moderne samelewings dek (ca. 500 – 1600)
- Temas wat moderne samelewings dek (ca. 1600 – 1950)
- Temas wat eietydse samelewings dek (ca. 1950 – )
- Temas wat die spesifieke gemeenskap se eie geskiedenis dek
- Temas wat ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe se geskiedenis dek
Boshoff sê dat dié voorstelle tot ’n gebalanseerde leerervaring kan lei, wat leerlinge se horisonne verbreed en hulle in voeling met hul eie wortels laat bly.