Die departement van binnelandse sake het nóg sewe amptenare ontslaan.
Dit bring die totaal sedert Julie 2024 op 63 te staan. Sestien amptenare is ook ontslaan wat met interne dissiplinêre prosesse en bevindinge deur die spesiale ondersoekeenheid verband hou.
Die minister van binnelandse sake, dr. Leon Schreiber beklemtoon dat dié stap deel van ’n breër poging vorm om korrupsie uit te roei en die integriteit van die departement te herstel.
“Die beslissende tempo waarteen die departement dissiplinêre sake afhandel, demonstreer [die departement] se onwrikbare toewyding om die skade wat oor baie jare aan binnelandse sake aangerig is, uit die weg te ruim,” sê Schreiber.
Schreiber het bygevoeg dat amptenare wat hulself aan wangedrag skuldig maak onverwyld hanteer sal word.
Sedert die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid het die departement 95 sake van wangedrag aanhangig gemaak, waarvan die meeste reeds afgehandel is.
Die departement van binnelandse sake loop lank reeds onder kritiek deur oor korrupsie en swak administrasie, wat veral betref die uitreiking van identiteitsdokumente en immigrasiedienste.