’n Twee jaar lange ondersoek deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ernstige leemtes in die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, NSFAS, se behuisingstelsel blootgelê.
Volgens dié verslag het strukturele veranderinge miljarde rande se belastinggeld aan risiko’s blootgestel.
Tussengangers word daarvan beskuldig dat hulle eiendomme goedgekeur het wat nie aan die vereiste standaarde voldoen nie. Volgens Outa se ondersoek is daar ’n eiendom met ongeveer 200 beddens gelys, wat inderwaarheid ’n gewone huis met drie of vier slaapkamers is. Die organisasie beweer dat diensverskaffers onreëlmatig aangestel is en dat miljoene rande onnodig aan administrasie verlore gaan.
Outa eis ’n dringende oudit en deursigtigheid om te verseker dat fondse studente bereik, eerder as om in die sakke van middelmanne te beland.