Jaco Kleynhans
Verlede Sondag se blitsverkiesing in Japan word reeds as ʼn historiese verkiesing beskryf. Die sentrumregse Liberaal-Demokratiese Party (LDP) se oorwinning was die grootste vir enige politieke party in Japan sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Wat dit egter meer opvallend maak, is dat die LDP al vir etlike jare vóór die verkiesing agteruitgang getoon het. Die party het verlede jaar sy meerderheid in die Japannese parlement verloor en was, ná ʼn reeks ongewilde staatshoofde, op ʼn duidelike trajek van verval. Tog het Sanae Takaichi die afgelope drie maande die LDP se situasie omgekeer en die party tot ʼn reuse-oorwinning gelei.
Voor Oktober 2025 was ʼn meerderheid van Japannese burgers baie lank gelede laas tevrede met hul regering. Die regering van Shigeru Ishiba het verlede jaar in Julie die steun van slegs 23% van Japannese geniet. Ishiba was uiteindelik vir net meer as twaalf maande Japan se eerste minister. Sy voorganger, Fumio Kishida, wat darem drie jaar lank die amp beklee het, was met sy uittrede in Oktober 2024 een van Japan se ongewildste eerste ministers, met die steun van minder as 20% van kiesers.
Toe Sanae Takaichi dus verlede jaar in Oktober as nuwe partyleier en eerste minister aangewys is, het sy ʼn party wat in ʼn krisis verkeer het geërf, sowel as die bagasie van opeenvolgende ongewilde voorgangers. Terselfdertyd was die Japannese publiek ontevrede en selfs diep bekommerd oor ʼn wye reeks kwessies – veral ekonomiese uitdagings, maar ook langtermynveiligheid, immigrasie, identiteit en Japan se internasionale posisie en aansien.
Takaichi het ʼn groot kans gewaag deur ʼn blitsverkiesing uit te roep. Sou die Japannese mense haar besluit as opportunisties beskou – onnodige koste en te veel moeite net maande ná die vorige verkiesing? Toe nie. Verlede Sondag het kiesers in ongekende koue weer en sneeu tougestaan om te stem en het die stempersentasie selfs dié van die verkiesing slegs 13 maande vantevore, oortref.
Die LDP is ʼn breë sentrumregse volksparty wat uit verskeie faksies bestaan. Takaichi se voorganger was afkomstig uit ʼn veel meer progressiewe faksie. Takaichi daarteenoor verteenwoordig ʼn meer nasionalistiese, konserwatiewe en pro-Amerikaanse faksie binne die LDP. Soos wat Margaret Thatcher in 1979 die ystervrou van die Westerse wêreld geword het nadat sy eerste minister van die Verenigde Koninkryk geword het, het Takaichi haarself die afgelope drie maande as die ystervrou van Japan gevestig – en moontlik selfs die demokratiese, vrye ontwikkelde wêreld. Sy is reeds by verre die gewildste leier van die G7-lande.
Haar gewildheid het reeds kort ná haar inhuldiging tot 70% gestyg in die LDP se reuse-verkiesingsoorwinning Sondag kan direk aan haar leierskap toegeskryf word. Takaichi se gewildheid staan in skrille kontras met die uitdagings waarmee leiers regoor die ontwikkelde wêreld die afgelope paar jaar te kampe gehad het.
Soos wat Japan die afgelope dekade of twee beduidende politieke uitdagings ervaar het – gepaardgaande met dalende vertroue in politieke leiers en ʼn onvergenoegdheid onder kiesers wat met tye tot apatie, afvalligheid maar ook woede en die opkoms van radikale en populistiese groepe gelei het – ervaar ander ontwikkelde, ryker demokrasieë dieselfde uitdagings.
Die Amerikaanse peilingsagentskap Morning Consult het vanaf 2 tot 8 Februarie die gewildheid van staatshoofde in die wêreld se vernaamste demokrasieë getoets. Die gewildste leiers, wat almal ʼn meerderheidsteun onder kiesers geniet, sluit in Narendra Modi van Indië, Javier Milei van Argentinië en Sanae Takaichi van Japan.
Die ongewildste leiers is Emmanuel Macron van Frankryk (16% steun onder Franse kiesers), Friedrich Merz (21% steun onder Duitsers) en Keir Starmer (23% steun onder Britte). Leiers soos Donald Trump en Claudia Sheinbaum se steun in die lae tot middel-40%-reeks is selfs riskant laag.
Hoe kon Takaichi dit regkry om soveel vertroue onder Japannese kiesers in so ʼn kort tydjie in te boesem? Die belangrikste is seker haar bereidwilligheid om reguit te praat oor kwessies wat haar voorgangers bly uitstel het. Dit sluit in Japan se noodsaak om homself te herbewapen en groter verantwoordelikheid vir sy eie verdediging te neem, asook die groot veiligheidsrisiko wat uit ʼn Chinese aanval op en oorname van Taiwan kan voortspruit. Die risiko’s wat massa-immigrasie, ekonomiese stagnasie, demografiese agteruitgang en kulturele verval vir Japan kan inhou is alles reeds reguit, eerlik en duidelik deur Takaichi op die tafel geplaas.
Sy herinner sterk aan haar eie rolmodel, Margaret Thatcher, wat nie in 1979 gewilde, polities-korrekte uitsprake probeer maak het nie, maar wat eerder reguit en eerlik met die Britse volk oor hul uitdagings gepraat het. Soos wat Thatcher met groot sukses die transatlantiese band tussen die VSA en haar land herbevestig en versterk het, doen Takaichi dit nou met ʼn hernude verdieping in die verhouding tussen Japan en die VSA, wat vir beide lande van groot geopolitieke en ekonomiese waarde kan wees.
Die uitslag van Japan se verkiesing verlede Sondag was die grootste swaai na regs in ʼn enkele verkiesing in die ontwikkelde wêreld sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Dit sluit duidelik aan by politieke tendense in Europa en die VSA. Anders as in Europa, het Takaichi daarin geslaag om haar sentrumregse volksparty oor die regte dinge te laat praat. Hoewel regse, populistiese partye ook in Japan gegroei het, dryf hulle egter nie die gesprek oor die toekoms van Japan nie. Daarmee het Takaichi reggekry wat geen Europese leier die afgelope drie dekades in kon slaag nie. Juis daarom behoort Westerse leiers Takaichi se aanbod vir samewerking met ope arms aan te gryp. Japan het dalk uitdagings, maar die land se nuwe leierskap het minstens ’n duideliker strategiese rigting as haar eweknieë in Europa.
Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.